As jy op soek is na ‘n hulpbron om jou onderwyslas ligter te maak, jou klasse op te kikker en jou leerders aan die lees te kry, is Weet die antwoord. Dié e-naslaangids vir leerders gee vir onderwysers en leerders goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, sodat leer weer lekker is!
Met byna 700 artikels oor basies elke onderwerp onder die son, is Weet werklik ‘n skatkis van kennis waarin jy na hartelus kan rondsnuffel. Van digters tot digtheid, nasionale simbole tot simbale, visse tot vakbondwese, Volkskas, die Franse Rewolusie en Freud – Weet lig jou in en leer jou meer.
Weet fokus ook veral op geskiedenisonderwerpe. Van die Anglo-Boereoorlog en die groot wêreldoorloë, tot belangrike mense en gebeure in die wêreldgeskiedenis word op Weet bespreek. Jy sal inligting oor erfenisgebiede en eg Suid-Afrikaanse kos vind, oor volkspeletjies en monumente, oor komponiste en kunstenaars.
Weet se projekbestuurder, Petronel Fourie, verduidelik: “Moet jou leerders ʼn taak oor demokrasie doen? Weet bevat al die inligting daaroor en gee boonop voorbeelde van demokratiese leiers. Verwys jou leerders na Weet, waar hulle selfs oor ander ideologieë kan lees, soos kapitalisme, sosialisme en kommunisme.”
Hier is ‘n paar maniere waarop jy dié handige hulpbron in die klas kan inspan:
- Onderwysers kan Weet gebruik om vir klasse voor te berei, omdat dit die handboek se inligting op ‘n ander manier aanbied, daarop uitbrei, of heeltemal nuwe inligting gee as dit wat die kurrikulum bied.
- Wanneer jy met ‘n nuwe tema in die klas begin, verras die kinders met ‘n paar vinnige feite, wat by elke Weet-artikel verskyn. Hierdie interessanthede sal hul belangstelling prikkel en sommer opgewonde maak oor die werk wat voorlê.
- Vra vir die leerders om ‘n Weet-artikel oor ‘n spesifieke onderwerp in die klas te lees voordat jy daarmee begin, om sodoende hul kennis daaroor uit te brei.
- Gebruik Weet om ‘n vinnige vasvrakompetisie in die klas te hou, om seker te maak dat die leerders die inhoud in die handboek onder die knie het, maar ook die ekstra feite wat in Weet se artikels te vinde is. Sodoende kry hulle op ‘n prettige manier die volledige prentjie van dit wat behandel word.
- Weet se inhoud is ideaal vir begripstoetse, klastoetse, of luistertoetse. Druk ‘n artikel uit, vee ‘n paar sleutelwoorde uit en vra die kinders om dit in te vul. Die artikel dien dan ook sommer ook as ‘n antwoordstel!
- Verwys kinders na Weet vir hul take. Daar is beslis inligting op Weet wat hulle nie in handboeke gaan vind nie en so kan hulle beter in take vaar.
- Ouers en skole wie se boekbegrotings vir die jaar uitgeput is, kan ywerige lesertjies na Weet toe stuur om allerhande interessante dinge te lees, boonop met prente wat daarby pas.
Weet is ʼn projek vir, en in samewerking met kinders, ouers en onderwysers. As jy inligting nodig het wat jy nie op Weet vind nie, laat weet ons gerus. Weet is nog in sy kinderskoene en brei by die dag uit. Met elke inset word Weet ‘n nog beter hulpbron in die klaskamer en by die huis!
Stuur gerus jou terugvoer deur aan [email protected] of voltooi hierdie kontakvorm.
Alles wat jy moet weet is beskikbaar by weet.co.za.
0 comments