Wikipedia – handige hulpmiddel in skole?

2020-02-28

deur André Badenhorst – Navorser: Die Wolkskool

Die gebruik van Wikipedia in die skool word dikwels verbied. Gebrek aan betroubaarheid van inligting word dan gewoonlik as hoofrede aangevoer. Nóg ʼn rede vir die verbod is dat dit leerders lui maak omdat inhoud eenvoudig ge-“copy en paste” word.

Is hierdie aannames geldig of kan Wikipedia vir ons skole enige voordele inhou?

Hierdie vraag raak al hoe belangriker aangesien daar reeds by die 90 000 artikels op Wikipedia in Afrikaans verskyn.

Is Wikipedia-inligting betroubaar?

Reeds in 2005 het die wetenskaplike joernaal Nature bevind dat Wikipedia net so betroubaar soos die gesaghebbende Encyclopedia Britannica kan wees.

Daar is intussen verskeie studies gedoen wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die reus van ensiklopedieë, Encyclopedia Britannica met reg bekommerd kan wees dat sy outeurs in baie gevalle nie die peil van objektiwiteit behaal soos baie keer by ’n gemeenskapsgedrewe ensiklopedie soos Wikipedia nie.

Die argument dat Wikipedia nie betroubaar is nie, is dus beslis nie in alle gevalle geldig nie.

Leer leerders dat kopieer en plak (copy and paste) uit is

In die dae voor Internet kon leerders inligting net so afskryf uit ’n ensiklopedie. Wat maak dit anders as kopieer en plak? Enige vorm van kopiëring, of dit nou blote oorskryf is, was nog nooit goeie praktyk nie en die skuld kan nie voor die deur van Wikipedia gelê word nie.

Soms is leerders aangesê om ensiklopedieë as bronne te vermy, maar ensiklopedieë se doel is om leerders te oriënteer sodat hulle dan daarna na behoorlike bronne kan verwys om self dieper te delf. Wikipedia maak hierdie proses selfs makliker.

Wikipedia se oop lisensiemodel verskil baie keer met dié van ander bronne. Dit gee dus die geleentheid vir die onderwysers om leerders bewus te maak vir die kwessie van plagiaat en intellektuele eiendomsreg.

Hoe baat leerders daarby?

Kritiese denke

Nie alle artikels op Wikipedia (net soos by ander bronne) is betroubaar nie en juis dít bied die geleentheid vir onderwysers om leerders krities te laat dink. Kritiese denke is een van die belangrikste 21ste Eeuse Vaardighede en in ‘n inligtingseeu waar enigiemand inligting kan versprei, sal leerders moet leer hoe om goeie bronne te identifiseer en feite teenoor mekaar te kan opweeg.

Inligting in jou moedertaal

Marlien van der Westhuizen noem in haar onlangse artikel “Aandag skoliere: Kry jou gratis hulpbronne hiér!” dat baie medewerkers tans besig is om Afrikaanse artikels op Wikipedia te plaas. Gaan kyk gerus na die Afrikaanse Wikipedia-kanaal.

Redigeringsvaardighede

As deel van die ontwikkeling van 21ste Eeuse Vaardighede moet leerders nie bloot verbruikers van inligting wees nie, maar aktief betrokke wees by die skep of redigering van inhoud. Leerders kan byvoorbeeld begin deur bestaande Afrikaanse Wikipedia-artikels na te gaan, lees- en spelfoute te korrigeer en sodoende hul basiese redigeringsvaardighede inoefen.

Daarna kan leerders aanbeweeg na gevorderde redigering deur te kyk na sinskonstruksies, helderheid en styl. Inligting kan nagegaan word en die objektiwiteit en geldigheid van die inhoud kan bevraagteken en reggestel word. Die moontlikhede is onbeperk!

Vertaalvaardighede

Wikipedia bied aan leerders die geleentheid om artikels vanaf enige taal na Afrikaans te vertaal. As mens die ingeboude vertaalfunksie van Wikipedia gebruik, help dit jou om die vertaling met die hulp van verskeie vertaalenjins te doen. Leerders kan dan verder die masjienvertaling vloeiend en sinvol maak.

Nie net word die leerders blootgestel aan verskillende tale en vertaalvaardighede nie, maar behoorlike leesvaardighede en begrip vir die spesifieke inhoud word met die vertaling gekweek. Leerders leer daardeur ook om objektief en met ander oë na inligting te kyk.

Algemene skryfvaardighede

Betroubaarheid, objektiwiteit, saaklikheid en skryfstyl is die boublokke van ’n goeie artikel. Die ingeboude maatreëls van Wikipedia sal nie enige wysigings sonder meer aanvaar as daar nie aan seker basiese vereistes van ’n artikel voldoen nie. Leerders wat aktief is by die redigering en skryf van Wikipedia-artikels se skryfvaardighede word dus behoorlik geslyp.

Eie belangstelling

Wikipedia is ’n geleentheid vir leerders om aan die wêreld hul passie en belangstelling vir ’n spesifieke onderwerp aan die wêreld te toon. Nie net is dit hoogs motiverend nie, maar dink net aan al die verrykte kennis wat met die navorsing oor die onderwerp gepaard kan gaan!

Skryf vir ’n outentieke gehoor

In plaas daarvan om bloot ’n artikel te skryf vir ʼn onderwyser wat ’n punt gee, kan leerders ’n Wikipedia-artikel aan ’n wye gehoor skryf waar die inligting vir mense iets kan beteken.

Hulle kry dan ook terugvoer vanuit verskeie oorde eerder as net vanaf een persoon deur middel van ’n enkele punt of simbool. Vir die onderwyser kan dit ’n besonderse nuttige instrument vir formatiewe assessering wees.

Navorsingsvaardighede

Wikipedia het ingeboude gemeenskapsmaatreëls om betroubaarheid en objektiwiteit te verhoog. Die gebruik van bronne is een van die tegnieke om wat daarvoor ingespan word. Die artikel moet ook ’n logiese vloei hê met figure en ondersteunende inligting wat ingespan word om dit meer gesaghebbend te maak.

Skrywers van blog-artikels moet leer om verskillende perspektiewe in die artikel in te sluit, selfs al stem hulle nie daarmee saam nie – dus ’n sleutel tot objektiwiteit.

Dit lewer ’n belangrike bydrae tot Afrikaans

Hoekom is dit belangrik dat ons taal ʼn Internetteenwoordigheid moet hê? Daar is verskeie redes bo en behalwe die feit dat dit die gebruik van Afrikaans onder ons kinders en gemeenskap bevorder:

  • Elke stukkie Afrikaans wat in digitale vorm op ʼn Internetplatform soos Wikipedia geplaas word, dematerialsieer en raak onvernietigbaar.
  • Kunsmatige Intelligensie (KI) werk met groot korpusdata en ons gaan die bus verpas as ons nie die databasis (KI gebruik o.a. Wikipedia) opbou nie. As daar bv. nie genoeg voorbeelde van ʼn Afrikaanse sinskonstruksie binne verskeie kontekste beskikbaar is nie, sal ʼn digitale bot-assistent jou nie doeltreffend in Afrikaans kan help nie.

Afrikaans is wel die grootste Afrikataal op Wikipedia, maar ons het tans nog net sowat 90 000 in Afrikaans teenoor die 6 miljoen Engelse artikels. Daar is dus nog baie Wikipedia-bydraers nodig en jou skool kan help (en sommer baie baat daardeur).

Hoe begin ek met Wikipedia?

Dit is baie eenvoudig. Registreer net as gebruiker op Afrikaanse Wikipedia en werk deur die nuttige beginnersgids wat opgestel is deur Maroela Media. En as jy enige vra het, raak deel van die Afrikaanse Wikipedia Facebookgroep. Daar is reeds meer as 600 mense wat jou sal bystaan!

Nuttige skakels

  1. https://wikiedu.org/teach-with-wikipedia/
  2. https://www.educationworld.com/a_tech/how-to-use-wikipedia-for-academics.shtml
  3. https://guides.lib.umich.edu/c.php?g=283187&p=1886531
  4. https://www.plagiarism.org/video/wikipedia-in-the-classroom
  5. https://www.youtube.com/watch?v=WxCjD5Yu308

Die Wolkskool is ’n nuwe generasie leerplatform vir leerders. Onderwysers en ouers word ingelig, bemagtig en betrek by hul kinders se vordering. Leerders kan ter enige tyd leerinhoud bemeester deur middel van hoë kwaliteit videolesse, assesserings asook ondersteunende lesmateriaal in vakke soos Wiskunde, Wetenskap, en Afrikaans Huistaal – gebaseer op die KABV-kurrikulum, in Afrikaans, alles teen ’n fraksie van die koste wat ekstra klasse sou kos.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Gesels met ons