Wiskunde Geletterdheid is nie ’n vak vir “dom” mense nie, inteendeel, dis ’n aanwins vir enige leerling. So sê Elna van Wyk de Vries, afgetrede Wiskunde-onderwyser met jare se ondervinding.
Volgens statistieke vanaf die departement van basiese onderwys, neem baie meer leerlinge jaarliks Wiskunde Geletterdheid tot in matriek, as gewone Wiskunde.
Volgens Elna kan die vaardighede wat leerlinge in Wiskunde Geletterdheid leer, baie beter in die alledaagse lewe toegepas word, as Wiskunde. “Deur Wiskunde Geletterdheid leer jy om in die regte lewe met syfers te funksioneer,” sê Elna. “Soms kry leerlinge 99% vir gewone Wiskunde, maar kan nie ’n vorm invul om hul inkomstebelasting in te handig nie. Dis wat jy leer in Wiskunde Geletterdheid.”
Ander handige vaardighede wat hierdie leerlinge aanleer, sluit in hoe om ’n huis of kar te koop en hoe om versekering en annuïteite uit te neem. “Leerlinge kan selfs uitwerk wat die waarskynlikheid is dat hulle die lotto gaan wen. Dis regtig ’n baie interessante en waardevolle vak,” sê Elna. Sy sê hierdie vaardighede kan in enige beroep gebruik word.
Elna erken wel daar kleef ’n stigma aan Wiskunde Geletterdheid as vak, grotendeels omdat Wiskunde-onderwysers die indruk wek dat net dom kinders hierdie vak neem. “Wiskunde Geletterdheid word beskou as ondergeskik aan Wiskunde. Dis vreemd, want die eksamen vir Wiskunde Geletterdheid is soms baie moeiliker as vir Wiskunde. Toe ek nog op skool was, was daar ook baie kinders wat glad nie wiskunde as vak gehad het nie en niemand het snaaks van hulle gedink nie.”
Volgens Elna is dit nodig vir onderwysers in Wiskunde Geletterdheid om werklik hul vak te verstaan en altyd positief en hardwerkend te wees, ten einde leerlinge meer positief oor hierdie vak te maak.