Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid?

deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: SOS

Volgens Wikipedia verwys die Vierde Industriële Revolusie (4IR) na die vierde hoof-industriële era sedert die aanvanklike Industriële Revolusie van die 18 de eeu. Die 4IR word gekenmerk deur deurbrake in ‘n aantal tegnologievelde, onder andere robotika, kunsmatige intelligensie (KI), nanotegnologie, kwantumrekenaars, biotegnologie, vyfde-generasie draadlose tegnologie (5G) en ten volle outonome voertuie.

Tydens die vorige drie revolusies het mens en masjien nou saamgewerk. Met die 4IR sal masjiene moontlik baie van die kognitiewe take oorneem – dit wat voorheen as die uitsluitlike gebied van mense beskou is. Die werkplek van die toekoms sal daarom heelwat anders uitsien as dít waaraan ons gewoond is.

Watter vak sal leerders die beste vir die Vierde Industriële Rewolusie toerus?

Dié belangrike vraag word deur Johan Koekemoer, Hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), gevra.

’n Vurige debat heers tans oor die relevansie en waarde van Wiskunde teenoor Wiskundige Geletterdheid. Ouers, leerders en onderwysers meet dié twee vakke verkeerdelik met dieselfde maatstaf. Dit lei dan tot ’n totale wanindruk oor beide vakke se doel en bestaansreg. Die toegang wat dié twee vakke onderskeidelik tot studierigtings bied, bepaal dikwels leerders se vakkeuse in dié opsig.

Daar is weliswaar voor- en nadele wanneer ’n keuse oor die vakke uitgeoefen word, en moet die waarde van elk van die vakke deeglik teenoor mekaar opgeweeg word. Die voormalige Departement van Onderwys (DO) het die doel van Wiskunde gedefinieer as die kweek van kreatiwiteit en logiese denke sodat leerders daarmee effektief probleme kan oplos. Daarteenoor het Wiskundige Geletterdheid ten doel om algemene Wiskunde-vaardighede onder landsburgers te kweek sodat hulle doeltreffend binne die daaglikse handel, wandel en roetines van die land kan funksioneer. Die twee dissiplines is dus op grond van hul verskillende doelstellings vakgebiede in eie reg.

Wat dan van Tegniese Wiskunde?

Tegniese Wiskunde is onlangs deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO) ingestel en is in beginsel gewone Wiskunde wat op ’n meer praktiese wyse aangebied word. Dit kan ook Toegepaste Wiskunde heet omdat dit ’n mens leer om tasbare probleme op te los en nie net oplossings vanaf eerste beginsels af te lei nie.

Die VAW is van mening dat die hoë teoretiese vlak waarop die assessering van hierdie vak plaasvind, veroorsaak dat die DBO die oorspronklike doel van die vak misken. Die inhoud van die eksamen is hoogs abstrak en sterk vergelykbaar met die inhoud van die vak Wiskunde. Tegniese Wiskunde moet as vak deeglik herevalueer word om ambagslui van die toekoms met Wiskundige vaardighede op praktiese, eerder as teoretiese vlak, toe te rus.

Met die keuse wat leerders tussen die drie vakke moet maak, kom ons weer terug die aanvanklike vraag oor “Watter van die drie vakke leerders die beste vir die Vierde Industriële Rewolusie sal toerus?”

Die VAW is van mening dat Wiskunde steeds leerders se eerste keuse behoort te wees. Kreatiewe en logiese redeneringsvermoë ten opsigte van probleemoplossing is ’n kernelement binne die immergewilde STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) velde wat as onderbou dien vir die Vierde Industriële Revolusie. Wiskunde is ’n abstrakte vak en is veral effektief om sagte vaardighede by leerders te ontwikkel, soos deursettingsvermoë (vasbyt), kritiese denke, self-gerigte leer en vele meer. Daar is bewyse dat hiérdie vaardighede net so waardevol vir die nuwe ekonomie sal wees as wat blote probleemoplossingsvaardighede is.

Om ‘n graad te verwerf, sal nou en in die nabye toekoms steeds ʼn gesogte kommoditeit bly, maar dit gaan dalk in die werksplek van die toekoms nie meer die alfa en die omega wees nie. Die ontwikkeling en instandhouding van relevante vaardighede om aan te hou presteer, bly baie belangrik. Omdat grade in tegniese dissiplines vinnig uitgedien raak, as gevolg van die vinnig ontwikkelende aard van die sektor, is lewenslange leer van kritieke belang.

Skole moet daarom onmiddellik die kortsigtige praktyk om leerders vanaf Wiskunde na Wiskundige Geletterdheid te migreer, staak. Wanneer die enigste doel is om slaagsyfers hoog te hou, word leerders van kritieke lewensvaardighede beroof. Dit is ook waar dat nie almal oor dieselfde Wiskundige vermoë beskik nie. Tog sal die genoemde praktyk leerders, wat met die regte blootstelling en vasbyt-potensieel baat sal vind by die kritieke vaardighede wat Wiskunde as vak sal bied, ’n geleentheid ontsê word.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.