Wiskunde vraestel 1: Die maklike vrae is maklik en die moeilike vrae is MOEILIK

Wiskunde vraestel 1 is op 26 Oktober 2018 geskryf en volgens Wiskunde spesialiste was die maklike vrae maklik, maar was daar ook ‘n aantal van die moeiliker vrae wat die kinders behoorlik sou laat les opsê het.

Volgens Elmarie van Loggerenberg en AJ Maree wiskunde-onderwysers by Afrikaanse Hoërseunskool in Pretoria was daar ’n paar vrae wat die kinders sou vang. “Vraag 1.3 was vreemd bewoord en die kinders sal dit moontlik moeilik vind om dit te beantwoord, so-ook vraag 3.4 en 8.2.”

“Wat baie interessant is omtrent die vraestel is vraag 10 wat ’n differensiaalrekening-som is wat die kinders hulle meetkunde-kennis moes gebruik het om die antwoord uit te werk. Dit is nie noodwendig ’n moeilike vraag nie, maar die leerders sou dalk nie verwag het om meetkunde in die algebra-vraestel te kry nie.”

“Daar was ’n goeie balans in die vraestel en ’n leerder wat voorbereid was, sal die vraestel met gemak slaag,” sê Van Loggerenberg.


Stefan Geyser, ’n leerder aan Afrikaanse Hoërseunskool, voel dat die vraestel regverdig was. “As mens kopgehou het en gefokus het, sal jy genoeg tyd gehad het om klaar te kry.


Vir Francois de Vos, nog ’n Affies-leerder, was die vraestel goed gewees, maar as hy terugkyk, sou hy meer tyd aan waarskynlikheid spandeer het.

Die heel laaste vraag, vraag 12, was vir baie van die leerders ’n probleem gewees en selfs die onderwysers moes kopkrap oor die vraag. “Die puntetoedeling was vreemd by die vraag en het meer verwarring veroorsaak,” sê Maree.

Die VAW-span het die vraestel uitgewerk en die volledige memorandum is hier beskikbaar. Gaan loer gerus of jy vraag 9.2 reg geskets het, dit was ‘n bulletjie.

Sterkte met die voorbereiding vir vraestel twee. Mag jou arbeid vrug aflewer!

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.