Blog

Rykdom – Voorlesing uit “Daar’s sand in my are”

Marika du Toit-van Heerden

Vrouewebinaar 2021

Marika het in Namibië groot geword en het ‘n besonderse liefde vir die Namibwoestyn en ontbeerde, uitgelewerde dele waar veerkragtigheid en gehardheid noodsaaklik is vir oorlewing. Sy bied sedert 2019 ‘n pakket aan vir vrouens vir ‘n besonderse ervaring op haar plaas in die Boesmanland.

Na skool het sy Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en na 10 jaar in die beroep besluit om tuis te bly by haar kinders. In hierdie jare het sy kunsklasse gegee, ‘n kaartjiereeks en skryfbehoeftereeks uitgebring, ‘n kindergedigteboekie, Katvoetverse illustreer en ook vir etlike jare ‘n dagboek uitgegee. Die gedigteboekie is steeds gewild by Afrikaanse- en drama onderwysers. Sy rig ook kinders af vir redenaarskompetisies en die skryf van redenaarstoesprake.

Gedurende 2021 het twee van haar leerders tweede geëindig in hul onderskeie ouderdomsgroepe op nasionale vlak in Namibië.

Marika skryf sedert 2008 stories en vertellings en word hoofsaaklik geinspireer deur die geharde aarde van die Boesmanland en Namibië, maar ook deur die deugde van nederige mense. Haar skrywes getuig van egtheid en haar karakters raak mens aan die hart. Haar boek, Daar’s sand in my are asook Katvoetverse, is beskikbaar op www.woordvirwoord.co.za.

Sy is tans ingeskryf by die Universiteit van die Weskaap waar sy haar M-studie in storievertelling as leer- en opvoedkundige hulpmiddel doen. Sy tree ook op as amanuensis vir matriekleerders by ‘n privaatskool in Johannesburg.