In 2025 herdenk ons honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal. Hierdie mylpaal skep geleentheid om terug te kyk op ’n reis van meer as 100 jaar se Afrikaanse onderwys – ʼn pad wat loop deur moeilike tye, ontwikkeling, groei en hervorming, oorloë, politieke wendings en ideologiese stryd – geanker in geloof, met ’n vaste fokus op die toerusting en opheffing van ʼn volgende geslag.
Van die vroegste onderwysinstellings in die Kaapkolonie in die 1600’s, tot die stigting van Christelik-Nasionale Onderwys (CNO) skole in die 1800’s, en die kragtige opkoms van Afrikaanse onderwys ná 1925, is daar een goue draad wat deur al die jare loop: gemeenskappe wat nie op die staat vertrou het nie, maar self verantwoordelikheid geneem het vir hul kinders se opvoeding en toekoms.
In die vroeë jare is Afrikaanse kinders in kerksale, plaashuise, en onder bome geleer om te lees, skryf en die Bybel te verstaan. Die opvoedingsdoelwit was nie net akademies nie, maar geestelik, kultureel en sosiaal begrond. Die taal van onderrig – of dit nou Nederlands of vroeë Afrikaans was – het altyd sentraal gestaan as deel van kennis- en kultuuroordrag in skole.
Teen die vroeë 20ste eeu het die stryd vir erkenning van Afrikaans as onderrigtaal momentum gekry. Die stigting van CNO-skole en die werk van onderwysleiers soos S.J. du Toit en Dr. J.C. Coetzee het ’n onderwysfilosofie gevestig waarin ouerbeheer, moedertaalonderrig, en Christelike waardes sentraal was. Hierdie skole was nie net plekke van leer nie, maar ruimtes van kultuuroordrag en gemeenskapsvernuwing.
Gedurende die twintigste eeu is dit die staat wat telkens klippe rol in die pad van Afrikaanse onderwys. Tydens Britse bewind was verengelsing amptelike beleid, maar sedert Uniewording werk Afrikaners hard om Afrikaans te bevorder, ook in skole. Met die gelyke erkenning van Afrikaans en Engels as amptelike tale en formele vestiging van Afrikaanse skole, het die onderrigstelsel gefloreer – in terme van getalle én gehalte.
Dieselfde NP-regering wat Afrikaanse onderwys help floreer het, het in die 1950’s die sogenaamde “Bantoe-onderwys”-stelsel ingevoer. Prof. H. Giliomee se navorsing wys dat daar aanvanklik werklike vordering in geletterdheid en syfervaardigheid van inheemse gemeenskappe was, veral omdat moedertaalonderrig as strategie gevolg
is. In die sewentigerjare maak politieke opstande en betogings teen hierdie aparte onderwysstelsel, onderrig in hierdie skole feitlik onmoontlik en word dringend na ander oplossings vir openbare onderwys in Suid-Afrika gesoek.
Die era van Model C-skole vanaf 1990 tot 1996 het ’n tydperk ingelui waar ouers se rol weereens sentraal geword het. Met minder steun van die staat, het Afrikaanse gemeenskappe opnuut begin bou – nie net fisies aan skole nie, maar aan ’n onderwysstelsel waarin Afrikaans kon voortleef.
Met die nuwe Skolewet van 1996 is ouers en skoolgemeenskappe se inspraak en verantwoordelikheid vir die onderrig van hul kinders bevestig deur skoolbeheerliggame se rol in die beheer, bestuur en beleid van openbare skole. Druk op die onderrigstandaard, verwaarlosing van moedertaalonderwys, asook uiters beperkte staatsondersteuning in 30 jaar van ANC-bewind, het nuwe onderwysuitdagings geskep. Sterk skoolleierskap, geroepe onderwysers en ouers se “Ons sal self”-benadering verseker egter dat Afrikaanse skole steeds uitnemend en internasionaal mededingend is.
Afrikaanse onderrig vervul veel meer as ’n praktiese funksie om inligting oor te dra. Dit is in skole waar kinders se identiteit en waardes gevorm word en waar hulle leer om hul plek in die wêreld met selfvertroue vol te staan.
Vir honderd jaar het Afrikaanse onderwys gegroei en reuse uitdagings oorkom. Afrikaanse skole is vandag sentrums van uitnemendheid en lewer leerders op wat in werkomgewing met die wêreld se bestes kan meeding. Die volgende honderd jaar van Afrikaanse skole is verseker as ons voortbou op die beproefde waardes wat ons tot hier gebring het. Deur skeppende vernuwing moet ons ook antwoorde en oplossings vind vir die unieke uitdagings van die tyd.