Vanaf 1 Januarie 2026 is alle goedere en dienste wat deur openbare en onafhanklike skole gelewer word, van BTW vrygestel. Dit beteken skole hoef nie meer BTW op skoolgeld, koshuisgelde, sportaktiwiteite, skoolfunksies, snoepwinkels of die verhuring van geriewe te hef nie. Dit is op die oog af goeie nuus vir skole, maar soos met baie wetswysigings, skuil die grootste impak in die fynskrif.
Waar skole voorheen inset-BTW op groot uitgawes soos bouprojekte, voertuie, toerusting en ander kapitale bates kon terugeis, verval daardie reg nou. BTW word dus ‘n werklike koste wat uit die skool se eie begroting betaal moet word. Vir baie skole wat reeds onder finansiële druk funksioneer, kan dit ‘n beduidende verskil maak.
‘n Belangrike aspek is uittreebelasting wat betaalbaar word op bates waarop voorheen inset-BTW geëis is. Die wet maak wel voorsiening dat hierdie bedrag eers vanaf Januarie 2027 in maandelikse paaiemente betaal kan word, maar dit kan kontantvloei wesenlik raak.
Die Wysigingswet raak nie alle skole ewe veel nie. Skole wat sterk op gemeenskapsfinansiering staatmaak, infrastruktuur ontwikkel, koshuise bedryf, betaalde aktiwiteite aanbied of hul geriewe verhuur, sal waarskynlik die grootste finansiële impak ervaar. Baie Afrikaanse skole val juis in hierdie kategorie.
Die SOS het ‘n praktiese adviesdokument saamgestel wat skoolbeheerliggame en bestuurspanne stap vir stap deur die nuwe vereistes neem, onder meer:
Die nuwe wet kan administrasie vereenvoudig, maar dit verander ook die finansiële spelreëls vir skole. Daarom is dit belangrik dat skole betyds hul belastingposisie, begroting en kontrakte hersien om onaangename verrassings te voorkom.
Laai die volledige SOS-adviesdokument af en bespreek dit met u skoolbeheerliggaam. Goeie beplanning vandag kan u skool môre duisende rande en baie administratiewe hoofbrekens spaar.
SARS se gids, Schools Exiting the VAT System- VAT Reference Guide en Staatskoerant No. 54448 van 1 April 2026 kan ook hier afgelaai word.
Vul jou besonderhede hieronder in om toegang tot die dokumentbundel te kry.