Die Omgekeerde Klaskamer is ’n metode van vervlegte leer. Tradisioneel lei die onderwyser kinders se onderrig
gedurende vaste periodes, waarna die kinders die inligting deur middel van huiswerk moet inoefen. Die Omgekeerde
Klaskamer “kontrakteer” die oordrag van kennis egter “uit” na ’n eksterne leeromgewing. Hierdie leeromgewing kan
in sommige gevalle “aflyn” voorbereiding insluit, maar moet verkieslik, en so ver moontlik, op aanlyn voorbereiding
konsentreer. Tradisionele huiswerk, ná ’n verduideliking in die klas, word vervang met aanlyn voorbereiding vóórdat
kinders die klas bywoon. Die gedagte is dus dat kinders tuis voorberei en by die skool werk.