’n Verlaging van die slaagvereistes vir universiteitsvrystelling sal nie veroorsaak dat meer Suid-Afrikaners B-grade verwerf nie. “Dit sal eerder daartoe lei dat nog meer jongmense oordrewe verwagtings van die toekoms koester, soos wat reeds die geval is weens oud-pres. Jacob Zuma se belofte van gratis hoër onderwys,” sê Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS).
In ’n omsendbrief in September het die departement van basiese onderwys aangedui dat vanjaar se matrieks 30% vir hul taal van onderrig, 40% vir ’n moedertaal en 50% vir enige ander vier vakke hoef te behaal ten einde met universiteitsvrystelling te slaag.
Matrikulante moes tot en met verlede jaar vier aangewese vakke met ten minste 50% slaag, om aan ’n universiteit te studeer. Die departement van hoër onderwys en opleiding het egter in Maart vanjaar die lys van aangewese vakke, wat insluit wiskunde, rekeningkunde, fisiese en lewenswetenskappe, ekonomie, geskiedenis en geografie, afgeskaf. Leerlinge kan dus nou enige vak, insluitend dans, toerisme en rekenaartoepassingstegnologie slaag ten einde universiteitsvrystelling te behaal.
“Nuwe slaagvereistes sal die aantal matrikulante wat kwalifiseer om aan ’n universiteit te studeer laat toeneem,” sê Brink. “Universiteite het reeds te min plek vir al die studente wat tans akademiese toegang tot graadstudies verkry en dit sal dus bykomende druk op hierdie instellings plaas. Die staat het ook nie die beraamde ekstra R35 miljard om Zuma se belofte van gratis tersiêre onderrig vir alle behoeftige studente na te kom nie.”
Brink meen die department van basiese onderwys moet eerder die gehalte van onderrig in skole verbeter, ten einde meer leerlinge in staat te stel om graadkursusse te slaag. “Die deurvloeikoers aan universiteite is reeds beroerd en hierdie stap sal waarskynlik daartoe lei dat nog meer studente, wat nie behoorlik toegerus is om universiteit te slaag nie, die stelsel betree en uiteindelik uitval voor hulle gradueer.”