Blog

Wegbreekjaar of nie?

Jongmense is deesdae onder baie druk om hulle toekoms vroeg al soos ‘n padkaart uit te lê. Nie net moet jy uitpluis hoe om skool suksesvol te voltooi nie, maar ook ‘n antwoord hê op die vraag, “Wat gaan ek met die res van my lewe doen?”

Baie 15-jariges vind dit moeilik om dié vraag te beantwoord, maar die realiteit is dat jou vakkeuses aan die einde van Graad 9 alreeds ‘n impak het op jou toekoms. Jou vakkeuses is immers die eerste stap in die kies van jou toekomstige beroep en dus een van die belangrikste besluite wat jy in jou lewe gaan neem. Soms maak jy egter ‘n keuse om in ʼn sekere rigting in te gaan, net om later uit te vind dat dit nie eintlik is wat jy wil doen nie.

As dit gebeur, is ‘n wegbreekjaar, of soos dit in Engels bekend staan, ‘n “Gap”-jaar dalk iets wat jy kan oorweeg na matriek. Daar is baie idees rondom wat jy tydens jou wegbreekjaar kan doen, maar dit is belangrik dat dit nie bloot in ‘n vakansiejaar ontaard nie. ‘n Betekenisvolle wegbreekjaar se doel is om te leer om op jou eie voete te staan, onafhanklik te funksioneer en ook om verantwoordelikheid vir jou eie besluite te neem.

“Wat gaan ek met die res van my lewe doen?”

Die werksplek van die toekoms verander voortdurend soos wat tegnologie ontwikkel en dus daar ook ‘n legio van nuwe beroepe beskikbaar om uit te kies. Die goue reël rondom ‘n wegbreekjaar is dat jy iets sal doen wat nie net pret is nie, maar jou ook sal verryk en toerus vir die toekoms. Wie weet, jy mag dalk net ‘n beroep ontdek waaroor jy mal is of selfs ‘n werk losslaan waar jy indiensopleiding kan kry.

Daar is ook baie geleenthede waar jy as vrywilliger kan help en sodoende nie net waardevolle ervaring kry nie, maar sommer ook ‘n reuse verskil kan maak terwyl jy dit doen. Deur betrokke te raak as vrywilliger, help jy om gemeenskappe en inisiatiewe te versterk en mense se lewensomstandighede te verbeter.

Voor jy die wêreld invaar met net jou rugsak, is deeglike beplanning nodig sodat jy ‘n wegbreekjaar kan kies wat beide jou doelwitte en begroting sal pas. Baie jongmense het nie noodwendig die fondse om ‘n duur oorsese toer aan te pak nie. As jy gelukkig is kan jou familie help, maar as jy nie jou ouma kan oortuig om te help nie is daar ander opsies ook. Een is natuurlik om ‘n deeltydse werk te kry en solank te spaar of selfs ‘n skarebefondsingsveldtog te loods op ‘n webwerf soos BackaBuddy.

Ons het ‘n afmerklysie gemaak wat jou kan help om die regte besluit te neem. Lees daardeur en kyk of jy aan al die moontlikhede gedink het. Hieronder is ook ‘n lys van webwerwe wat opsies bied vir ‘n wegbreekjaar wat jy nie sommer sal vergeet nie.

Wegbreekjaar-afmerklysie:

Die doel van my wegbreekjaar is:  
☐ Ek is lus vir ‘n avontuur en wil die wêreld sien
☐ Ek wil nuwe vaardighede leer en werkservaring opbou
☐ Ek wil ‘n bydrae maak tot die samelewing
☐ Ek wil meer leer oor ander kulture
☐ Ek wil genoeg geld maak om my onkostes te dek
☐ Ek wil genoeg geld maak om te spaar vir later  

Ek verkies:  
☐ Struktuur en vastigheid
☐ Buigbaarheid en onafhanklikheid  

Ek wil graag:  
☐ Oorsee gaan
☐ My eie land verken  

Hoeveel geld het ek tot my beskikking?  
☐ Genoeg om vir ‘n duur wegbreekjaar-program te betaal
☐ Genoeg om my basiese uitgawes te dek
☐ Platsak! Ek moet genoeg verdien om my uitgawes te dek
☐ Ek moet genoeg verdien én soveel spaar as moontlik  

Wat is my huidige kwalifikasies en werksondervinding?  
☐ Ek het pas matriek voltooi (of is besig met matriek)
☐ Ek studeer by ‘n tersiêre instansie
☐ Ek het ‘n graad, maar geen werksondervinding nie
☐ Ek het ‘n graad en ‘n paar jaar se werksondervinding
☐ Ek het nie ‘n graad nie, maar wel ‘n paar jaar se werksondervinding  

Webwerwe (daar is nog baie ander):

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]