Die Solidariteit Beweging het vandag omvattende planne bekend gemaak om Covid-19 te bestry. Die Beweging het ook ʼn aanbod aan die regering gemaak om saam te werk om die verspreiding van die virus te keer en die impak van die drastiese maatreëls te versag.
Die Solidariteit Beweging se Covid-19-krisisplan in ʼn neutedop, is soos volg:
1. Samewerking met die regering Daar is reeds uitgereik na die regering se nasionale gesamentlike rampbestuursentrum. Samewerking op provinsiale en plaaslike vlak word beplan.
2. Solidariteit se korona-krisissentrum om werknemers te steun Werknemers kan hier alle werkverwante vrae en antwoorde, inligting oor die virus en algemene inligting kry. ʼn Spesiale krisislyn gaan ingestel word.
3. AfriForum se sentrale veiligheidbeheersentrum Veiligheidskwessies gaan gekoördineer word. Moontlike onrus sal hanteer word. Algemene strategiese inligting sal ontvang en verwerk word.
4. Hulp met opsporing AfriForum Veiligheid het reeds aangebied om die nasionale rampbestuursentrum te help met opsporing.
5. Ekonomiese aktiwiteit Volledige planne om die ekonomie steeds te laat funksioneer gaan aan die regering voorgelê word. Solidariteit gaan met werkgewers in gesprek tree oor die balans wat tussen besigheid en veiligheid gehandhaaf moet word.
6. Maatskaplike hulp Solidariteit Helpende Hand gaan 15 maatskaplike werkers landswyd gebruik om gemeenskappe in staat te stel om die maatskaplike uitdagings te bowe te kom weens die ingrepe om die virus te keer en om siekte as gevolg van die virus te oorkom.
7. Hulp aan skoliere en ouers Die Skoleondersteuningsentrum gaan tot 30 Junie duisende video’s, werkkaarte, vraestelle en ander hulpmiddels gratis op sy Wolkskool beskikbaar stel om skoliere in staat te stel om van die huis af te studeer.
8. Inligting oor virus deur e-leer en webinare Solidariteit gaan deur sy S-leer-platform ’n reeks e-leerkursusse aanbied om kinders en volwassenes oor Covid-19 in te lig. Daar gaan ook weekliks webinare aangebied word.
9. Ondersteuning aan die kunste Die FAK, Maroela Media, die Solidariteit Beroepsgilde vir die Kunste en Dapper Media gaan planne uitrol om kunstenaars te beskerm. Op kort termyn gaan gepoog word om te help om onmiddellike finansiële nood te verlig, maar op medium en lang termyn gaan gekyk word na elektroniese platforms en alternatiewe vorme van konserte.
10.Nasionale krisiskomitee en interne aksie Die Solidariteit Beweging het ʼn nasionale krisiskomitee gevestig wat daagliks vergader en aksieplanne volgens die nuutste inligting sal aanpas. Die Beweging het ook alle internasionale reise gestop en binnelandse reise word tot die minimum beperk. Ingrypende maatreëls is in plek om te keer dat personeel die virus opdoen.