Beste ouers, onderwysers, ondersteuners en vriende
Hierdie is ʼn oproep om “twee hoenders” te skenk. Dis tyd vir helpmekaar. Kom ek verduidelik:
Op 7 April 2020 hou die Solidariteit Beweging ʼn helpmekaardag. Die doel is om geld in te samel om mense in maatskaplike nood te help en om kinders te help om steeds te kan skoolgaan. Ons wil die suksesvolle Wolkskoolprojek uitbrei sodat meer kinders die voordeel kan geniet. Die oorweldigende vraag na onderwyshulp het ons laat besef ons moet die gemeenskap nader om te help. DIe krisis is nog glad nie verby nie. Die vraag na hulp gaan groter word.
10 November 1917 was ook ʼn helpmekaardag. Ná die 1914-rebellie was die land deur absolute armoede en swaarkry getref.
Veral die Vrystaters was swaar getref. Op Bethlehem is besluit: “Ons moet saamdra en saamwerk” om die nood te verlig. Later het die besluit tot die Helpmekaarbeweging gelei en landswyd uitgebrei. Almal was in nood, maar almal het ingespring en gehelp. ʼn Bankrot boer het twee hoenders gegee met die woorde: “… ik is geheel uitgeboer en dit is alles wat ik kan gee.”
Binne vier maande is meer as R150 miljoen (in vandag se waarde) deur mense in nood, vir ander in nood, ingesamel.
In 2020 word Suid-Afrika getoets deur een van die grootste uitdagings nóg vir hierdie geslag. Niemand weet hoe dit gaan uitspeel nie. Daar is egter instemming dat Suid-Afrika nog maar aan die begin van die krisis staan.
Mense kry reeds nie salarisse nie. Daar is kostekorte. Oumense is in nood en kinders en ouers moet plan maak met skoolwerk.
7 April is ʼn helpmekaardag midde-in die koronakrisis. Dit is die begin van ʼn reuse-helpmekaarpoging. In die tye wat voorlê, gaan ons mekaar moet help.
Ons gaan almal onseker wees. Ons gaan almal swaarder kry, maar juis daarom moet ons mekaar help. Dis tyd dat ons moet saamdra en saamwerk. Dis tyd dat ons ons twee hoenders gee.
Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie. Ons gaan mekaar moet dra.
Dra jou “twee hoenders”, of meer, by tot die Solidariteit Noodfonds. Ons het jou nodig.
My nederige versoek is dat jy hierdie boodskap aan almal wat jy ken, sal stuur. Dis nou een boodskap wat viraal moet gaan. Ons mense is in nood.
Ons almal het mekaar nou nodig.
Groete
Dirk Hermann
Voorsitter van die Skoleondersteuningsentrum en Bestuurshoof van Solidariteit