Blog

Helpende Hand voed tans 8 000 kinders, maar dis nie genoeg

Danksy Helpende Hand se ondersteuners en bekende #StopHonger-ambassadeurs kan dié welsynsorganisasie vanjaar weer 8 000 kleuters landwyd elke dag ’n gesonde bord kos voorsien.

Margolé Riekert, koördineerder van Helpende Hand se voedingsprogram, het gesê Helpende Hand se Kosblikkie-projek alleen, kon in 2019 ook sorg dat altesaam 8 000 kleuters van 87 skole landwyd elke skooldag ’n bord kos kry.

“Met die hulp van die publiek en Helpende Hand se veldtogte soos #StopHonger en #HelpJag, kan ons vanjaar weer vir 8 000 kleuters in verskeie skole kos gee. Die nood is egter groot en die behoefte word by die dag al hoe meer. Ons moet nou poog om in 2021 vir 12 000 kinders kos te voorsien. Dit is ’n massiewe 2,4 miljoen etes ’n jaar,” het sy gesê.

Riekert verduidelik Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat in 2009 begin is, is die hoofvoedingsprogram. “Helpende Hand ontvang ook versoeke om by kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne in te gryp en daarom is bykomende veldtogte soos #StopHonger en #HelpJag begin om die Kosblikkie-projek aan te vul.”

#HelpJag is in 2018 van stapel gestuur weens ’n tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene. Die projek moedig jagters aan om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk om dié te kort aan te vul.

“Om vir ’n jaar aan die daaglikse minimum proteïeninname van kleuters te voorsien, benodig #HelpJag 160 ton wildsvleis. Elke Koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir ’n maand voed, terwyl ’n gemsbok 26 kleuters vir ’n maand voed. Selfs ’n springbok kan 6 kleuters per maand van ’n gesonde maaltyd help voorsien,” het Riekert bygevoeg. Die ambassadeurs van dié veldtog is Bakkies Botha en Adam Tas.

Met #StopHonger het Helpende Hand en Coleske Artists in 2018 hande gevat om die publiek bewus maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters. Die hoofdoel van die veldtog is om geld in te samel om kos mee aan te koop.

Bekende sangers wat as ambasadeurs optree Tarryn Lamb en Monique Steyn, Corlea, Dewald Wasserfall, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Demi Lee Moore, Ivan Roux, Dirk van der Westhuizen, Jay en die duo Touch of Class.

“Dit is ’n hartseer werklikheid dat daar talle Afrikaanssprekende kinders is wat elke aand honger gaan slaap, want hul ouers kan net nie kos bekostig nie. Voeding vir ’n kind is van die uiterste belang om optimaal op skool te konsentreer, funksioneer en presteer. Om vir 12 000 mense elke dag kos te gee, benodig ons die publiek se hulp en volgehoue ondersteuning. Ons wil ook beklemtoon dat mense wat #HelpJag en #StopHonger ondersteun, ook direk Helpende Hand se Kosblikkie-projek ondersteun.”

Jy kan betrokke raak en Helpende Hand só help om 2,4 miljoen etes vir 12 000 kleuters landwyd te voorsien. Besoek www.krisisfonds.co.za om by te dra.

Teken in op ons nuusbrief