Blog

Die interessante verband tussen boomklim en suksesvolle jongmense

deur Marlien van der Westhuizen, Navorser by SOS

Boomklim was lank gelede ’n gewilde tydverdryf vir baie kinders, maar verstedeliking en die veiligheidsaspek het gemaak dat baie kinders nie meer die vreugde ken nie. Ons het egter 10 redes waarom dit die moeite werd is om ’n goeie boom te gaan op soek.  

  1. Boomklim help om kinders fisies sterk te maak. 
  1. Deur bome te klim leer kinders om te konsentreer op ’n spesifieke taak.  
  1. Wanneer ’n boom suksesvol geklim is, het kinders ’n gevoel van genoegdoening en selfvertroue.  
  1. Kinders se grootmotoriese vaardighede word ontwikkel deur ’n boom te klim. 
  1. Boomklim bevorder kinders se buigbaarheid van gees en vlees. 
  1. Die klim van bome help om komplekse neuronverbindings in kinders se breine te vorm wat andersins nie sou vorm nie.  
  1. Kinders leer die vermoë om vas te byt wanneer hulle boomklim wat bydra tot ’n “kan-doen”-houding wanneer hulle ouer is. Dit ontwikkel ook kinders se verstand en wilskrag om deur te druk met moeilike take.  
  1. Deur hulle pad deur die takke te vind tot bo, leer kinders speel-speel hoe om probleme op te los.  
  1. Enige aktiwiteite wat buite plaasvind, is ryk in sensoriese ervarings, veral boomklim waar hulle die wêreld uit ‘n ander hoek sien.  
  1. Boomklim bevorder gesonde, ruimtelike oriëntasie wat later bydra tot leerders se wiskundige vermoëns.  

Alhoewel boomklim riskant is, hoop ons dat jy nou saamstem dat die opwinding van boomklim en die voordele daarvan swaarder weeg as die vrees vir seerkry.  

Dit is egter baie belangrik dat ouers en kinders voorbereid is wanneer daar besluit word om bome te klim. Jou kind sal ‘n aanduiding gee waaneer hy gereed is.  

Kies die eerste boom oordeelkundig. Begin met ’n maklike, laerige boom en maak maar seker dit is ‘n stewige boom sonder ou, dooie takke. Moedig jou kind aan om altyd ‘n goeie greep met ’n voet of ’n arm te hê sodat hulle veilig kan klim. Met die eerste klimslag, ondersteun jou kind se pogings fisies tot hulle genoeg selfvertroue het om self verder te klim. Staan dan terug en laat hulle toe om self te probeer. 

Wanneer jy onrustig raak oor jou kind, vra hulle of hulle gemaklik is, eerder as om hulle te maan om versigtig te wees. Onthou, moenie jou onrustigheid op jou kind projekteer nie, want dit is juis wanneer hulle bang raak en ongelukke gebeur. Leer jou kind dat hulle slegs moet klim as hulle veilig voel en verduidelik dat hulle altyd vir hulp kan vra as hulle bang raak.  

Ten slotte, onthou die afklimslag is soms moeiliker as die opklimslag, so vat dit stadig en oefen die afklim ook! 

Teken in op ons nuusbrief