Mariesa Candiotes en Charlotte Fourie
Wolkskooldosente by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)
- Onderhou ‘n “normale” oggendroetine. Eet ‘n gesonde ontbyt, borsel tande, kam hare en trek “skoolklere” aan.
- Druk die klasrooster vooraf uit. Soos die periodes klaar is, laat jou kind dit op die rooster afmerk. Sodoende weet hulle hoeveel klasse nog oor is. Tyd is nog nie ‘n konsep wat jonger kinders werklik goed begryp nie, maar op hierdie manier word die dag in dele opgebreek wat hulle wel kan verstaan.
- Wees voorbereid: kry alle boeke en skryfbehoeftes die aand voor die tyd reg, sodat daar nie geskarrel word tussen klasse of selfs tydens klasse nie.
- Skep ‘n netjiese ruimte in jou huis waar die aanlyn onderrig altyd kan plaasvind, weg van afleidings soos die televisie en speletjies.
- Laat jou kind gebruik maak van oorfone tydens klasse, dit help om hulle aandag op die juffrou te fokus en verhoed onnodige afleidings en onderbrekings.
- Verduidelik aan jou kind dat dit net soos ‘n “kontak-onderrig” klas is en dat hulle vrae moet vra indien hulle nie seker is oor iets nie.
- Speel voor die tyd met die programme wat gebruik word en wys jou kind hoe dit werk. Hou ‘n paar oefenlopies as dit moet. Vertel jou kind ook van aanlyn onderrig etiket soos om te ‘mute’ as jy nie hoef te praat nie en dan weer te ‘unmute’ as jy moet praat (hierdie les kan gerus ook vir ‘n paar volwassenes geleer word).
- Moenie saam met jou kind die klasse bywoon nie, maar wees naby genoeg sodat jy kan inspring en help as daar ‘n tegniese probleem opduik. Hou in gedagte dat jy nie saam met hulle in die “normale” klas sou wees nie. Selfstandigheid en verantwoordelikheid is twee belangrike vaardighede wat hier aangeleer kan word. Mamma, moenie hulle prentjies inkleur of uitknip nie!
- Verduidelik ook dat hulle nie sonder die juffrou se toestemming sommer mag opstaan gedurende ‘n klas nie.
- Laat hulle buite speel, ietsie eet en water drink tydens ‘pouses’.
- As jou kind sukkel om te fokus, bind ‘n kousband om die stoel se pote. Dit sal hulle bene besig hou en konsentrasie verbeter.
- Wees geduldig met jou kind en hulle juffrou – hierdie is ‘n deurlopende leerproses vir beide van hulle.
- Sê na die tyd vir die juffrou dankie – daar gaan baie tyd en voorbereiding in aanlyn-onderrig in!
Hierdie kind is toekomsgereed
Nuwe ouers hou hul babas se ontwikkelingsmylpale met ‘n pynlike fyn oog dop, maar ons almal weet dat kinders teen hulle eie tempo ontwikkel. Is dit dan nie dieselfde vir kinders se akademiese ontwikkeling nie?
Aanlyn onderrig behoort meer ouerbetrokkenheid tot gevolg te hê en studies toon dat daar ‘n verband is tussen ouerbetrokkenheid en akademiese prestasie, asook tussen ouerbetrokkenheid en die sosiale afronding van ‘n kind.
2021 is dalk nie wat ons gehoop het hy gaan wees nie, maar 2021 gaan my kind wys hoe om selfgerig te leer. 2021 gaan my kind selfstandig, verantwoordelik en toekomsgereed maak.
Waardevolle skooltyd hoef nie verlore te gaan waar skole nie aanlyn klasse kan gee nie, want die juffrou op Die Wolkskool het reeds baie hard gewerk om videolesse te skep wat leerders op hulle eie tyd kan voltooi. Die Slimboekreeks vir graad 1 tot 3 bevat ‘n werkboek vir elke kwartaal met bypassende video’s wat leerders saam met hulle ouers solank kan deurwerk. Besoek www.wolkskool.co.za vir meer inligting.