Mariesa Candiotes en Charlotte Fourie
Wolkskooldosente by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)
2020 het begin met ‘n reeks toesprake oor 20-20 visie, minwetend hoe waardevol só ‘n visie uiteindelik sou wees. Dit was ‘n jaar propvol uitdagings, onsekerhede en sommer ‘n nuwe woordeskat. Ek kan skaars glo (en erken dit moeilik) dat ek in Maart 2020 nie geweet het wat Zoom is nie.
Glo dit of nie, maar daar was in 2020 in die onderwys harder gewerk as ooit: onderwysers en ouers moes inspirasie en innovasie laat trou om die skooljaar te red. Ons kan 2020 voorwaar as ‘n nare bordspeletjie opsom, maar tervegeefs het ons almal om middernag, 31 Desember 2020, “Jumanji!” geskree, want 2021 het sommer vroeg al vir ons tande gewys.
“My fellow South Africans” hoor ons vir die soveelste keer en nie lank daarna nie, word die meeste van ons se vrese waar: die begin van die nuwe skooljaar word met twee weke uitgestel.
Matriek van 2032
Haar skooltas was al in Desember gepak en dit het haar rug kromgetrek soos sy in die sitkamer met haar nuwe skoolrokke (ouma het die some al weke terug korter gemaak) modeperade gehou het – mamma en pappa het video’s geneem en kleinsus was tog te jaloers omdat sy nog twee jaar moet wag vir die “grootskool”.
Op 15 Januarie sak my moed vir die soveelste keer in my skoene toe ek besef dat ons graad 1-parabeen die begin van haar skoolloopbaan waarskynlik aanlyn en in afsondering gaan moet aandurf. ‘n Mamma-hart is mos ‘n snaakse ding: dit pyn wanneer jou kinders deur ‘n moeilik tyd gaan, dit krimp wanneer hulle seer het en dit voel of jou hart buite jou liggaam begin loop elke keer wat hulle die ‘nes verlaat’.
“Children cannot be, what they cannot see”
Die onderwyser binne my preek gereeld aan ouers dat hul reaksies op terugslae, teleurstellings en ander moeilike omstandighede direk op hulle kinders projekteer.
Nie lank na die Departement van Basiese Onderwys se aankondiging nie, ontvang ons ‘n lywige e-pos van die skool af: alle graad 1-maatjies begin met aanlyn onderrig. My maag draai, my palms slaan in ‘n koue sweet uit en ek is seker ek het my hart in my keel voel klop. Dis tóé dat my binne-onderwyser die mamma oor die vingers tik en herinner: ouers se reaksies op terugslae, teleurstellings en ander moeilike omstandighede, projekteer direk op hulle kinders.
Ek het ‘n oomblik gevat en hulp van Bo gesmeek. Ons Afrikaners is mos veerkragtig (sê ek oor en oor in my kop). Ons stof vinnig die ou skootrekenaar in die kas af en stel hom op met al die nodige programmatuur. Dankie tog ons het ons kinders van kleins af gemaklik gemaak met ‘n rekenaar!
Skielik bietjie meer opgewonde, maar steeds met ‘n traan in my hart, verduidelik ek aan ons graad 1’tjie dat sy nou met aanlyn skool gaan begin.
‘n Nuwe generasie Coronials
Die eerste dag van “skool” het skaars begin en my gebede word verhoor: hoe bevoorreg is ek en my kind tog nie!
Dis ‘n voorreg dat ek op haar eerste dag van skool, langs haar kon sit en die opgewondenheid in haar stem eerstehands beleef soos sy met haar juffrou en maatjies oor Zoom praat. Dis ‘n voorreg dat ek werklik deel kon wees van haar eerste dag in die “grootskool”. Dis ‘n voorreg dat ek langs haar in die klas kon sit en kon deel in haar ervarings. Hierdie kosbare oomblikke sou ek nooit meegemaak het as ek haar by die skool moes gaan aflaai nie.
Dis dalk nie die ideaal as jy lief is vir tradisie nie, maar vir ‘n sewejarige om blootgestel te word aan tegnologie en aanlyn leerplatforms, is beslis ‘n voorreg. Ons kind het nou die geleentheid om verantwoordelikheid vir haar eie onderrig te aanvaar en selfgerig te kan leer – vaardighede wat meeste 18-jariges eers op Universiteit opskerp.