Blog

Kosblikwenke vir ’n nuwe skooljaar

deur Marnelda de Beer

Hoof: Afrikaanse Grondslagfase Vakvereniging

“Kosblik” is ’n gevreesde woord vir ’n mamma. Nie alleen is die voorbereiding van kosblikke ’n uitdaging nie, maar ook die “terugkeer” van kosblikke vanaf die skool bly ’n groot kopseer. Hier volg ’n paar wenke om hierdie “nagmerrie” in ’n “soete droom” te omskep.

  • Beplan vooruit.
  • Bepaal vir hoeveel etes hierdie kosblik voorsiening moet maak, bv. pak ook genoeg kos in vir buitemuurse aktiwiteite.
  • Koop ’n kosblik met verskillende kompartemente. Sorg ook dat die deksel dig sluit en maklik afgehaal kan word.
  • Skaf ’n koelhouer aan waarin die kosblik gebêre kan word. Tasse staan partykeer vir lang periodes in die son.
  • Pak kos in wat jou kind eet. Moenie nou probeer om jou kind aan nuwe smake bekend te stel nie. Los dit vir ’n vakansie. Smeer jou kind se gunsteling smeer op, al is dit tamatiesous saam met appelkooskonfyt (gril…).
  • Pak kos in wat soveel as moontlik voedselgroepe insluit.
  • Proteïene, koolhidrate en vrugte is altyd goeie keuses. Twee snytjies brood vir ’n hele dag is te min!
  • Maak seker dat gesnyde vrugte nie tussen die brood beland nie. Niemand hou van “gekrummelde-lemoenskyfie-stroop-broodjies” nie.
  • Vermy rys, 2-minuut noedels, pampoen en oorskiet aandetes. Leerders eet dit nie. Juffrou het nie die fasiliteite om dit op te warm nie. Dikwels bly die eetgerei by die huis.
  • Hou porsies klein.
  • Vermy gaskoeldranke. Proppe skiet af en loop uit tussen die duur leesboeke, mooi werkboeke en heerlike kaasbroodjies. Water is die beter keuse!
  • As jogurt ingepak word moet ’n lepeltjie saamgestuur word.
  • MERK, MERK en MERK die kosblik, waterbottel en kossakkie goed en jou kind moet weet waar jy dit gemerk het.
  • Maak vrede dat jy ten minste vyf kosblikke in die jaar gaan vervang.

Sterkte vir die nuwe skooljaar. Geniet die tyd saam met jou kind en voorspoed met die beplanning en pak van ongeveer 200 kosblikke wat voorlê.