Die ontvangs van rapporte is een van die mees stresvolle tye in baie gesinne se lewens. Kinders is nie net bekommerd oor hul punte nie, maar ook oor hul ouers se reaksie. Ouers is ewe bekommerd oor hul kinders se akademiese sukses en kans op ʼn goeie toekoms.
Die doel van die ‘n rapport is nie om ouers paniekerig te maak of massa-histerie te veroorsaak nie, maar eerder om terugvoer oor jou kind se vordering te gee. Woedende ouers en ontstelde kinders los nie probleme op nie. Dit veroorsaak net meer spanning.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) deel ’n paar wenke hoe om rapport-spanning te benader:
- Gesels vooraf met jou kind oor sy vakke, eksamen en rapport. Luister en moet beslis nie raas nie. Vind uit hoe jou kind oor sy vordering van die afgelope termyn voel. Ongeag jou kind se uitslae, is dit belangrik vir ’n ouer en ’n kind om saam te sit om vakke, punte en moontlike struikelblokke te bespreek. Hierdie gesprek is ʼn baie belangrike deel van ʼn ouer se aktiewe deelname in hul kind se opvoeding. Luister eers en bespreek dan die verskil tussen wat jou kind sê en wat die punte sê.
- Begin die gesprek op ʼn positiewe noot. Wens hulle geluk met die vordering wat gemaak is in vakke wat hy voorheen uitdagend gevind het en gee ’n beloning daarvoor. Indien daar geen vordering in die punte is nie, prys jou kind oor hoe goed hy met maats oor die weg kom of sy deelname aan buitemuurse-aktiwiteite.
- Ons almal wil hê ons kinders moet goed presteer en vir baie ouers is goeie punte ʼn teken van hierdie verwagting. Goeie punte kan ʼn aanduiding wees van sukses vorentoe. Té veel druk kan egter teen ʼn hoë prys kom en lei tot sosiale-, emosionele- en fisiese spanning.
- Behou perspektief en wees versigtig vir onrealistiese verwagtinge. Ouers moet in ag neem dat nie alle leerders top akademiese presteerders is nie. Let ook op ander talente waaroor jou kind beskik, soos goeie menseverhoudinge, deursettingsvermoë, kreatiwiteit en ondernemingsgees en gee daarvoor ook erkenning.
- Moenie jou kinders (en hul punte) met mekaar vergelyk nie. Elke kind is uniek, presteer op verskillende vlakke en het verskillende sterk- en swakpunte.
- Dit is nie vir ’n ouer lekker om te hoor dat hul kind nie na wense presteer nie. Indien dit glad nie vir jou sin maak hoekom jou kind ʼn bepaalde punt verwerf het nie, praat met die betrokke onderwysers.
- Ontleed die vraestelle en kyk wat is die basiese konsepte wat jou kind nie verstaan nie. Bly op hoogte van jou kind se vordering. ’n Goeie onderwyser sal jou help om te verstaan waarom die bepaalde punte verwerf is en raad gee oor hoe om die punte te verbeter.
- Werk saam met jou kind aan ’n plan. Fokus op die stappe wat gevolg moet word om hom/haar weer op koers te kry. ’n Goeie of slegte punt word nie net gegee nie, dit word verwerf. Hoewel ouers die las moet help dra, ekstra onderrig kan reël, help met huiswerk of selfs ʼn skedule opstel om seker te maak die werk word gedoen, moet kinders besef dat net hulself iets aan hul punte kan doen. Ondersteun jou kind, sonder om te veroordeel. Sit saam en besluit op realistiese doelwitte. Maak seker dat jou kind weet hoe om te leer en evalueer hul studiegewoontes en werk saam met jou kind aan ʼn plan vir eksamenvoorbereiding.
- Verskaf soveel moontlik ondersteuning aan jou kind. Die Wolkskool is ’n fantastiese wêreldklas- aanlyn leerplatform vir leerders van graad 1 tot 12, met meer as 16 000 videolesse, werkkaarte en aflaaibare werkboeke. Jou kind kan op sy of haar eie tyd deur die lesse werk of met kort videolesse spesifieke konsepte wat hulle nog nie verstaan nie, gou onder die knie kry.
Valentyn van der Merwe, Hoof van Innovasie by die SOS gee raad: “Ouers moenie wag tot die einde van die jaar om hul kinders te help om akademiese prestasie te verbeter nie. Stel nóú reeds nuwe doelwitte en maak Die Wolkskool deel van die oplossing om skoolwerk in ʼn japtrap te verstaan.”
Jou kind is soveel meer as ʼn rapport. Akademiese prestasie is nie die geheelbeeld van jou kind nie. Ondersteun hom/haar om met selfvertroue probleme aan te pak en op te los.