Afrikaanse ouers moet die hand al dieper in die sak steek om gehalte onderwys vir hul kinders te verseker en ouers in Pretoria betaal gemiddeld die meeste skoolgeld van almal. Indien jy jou kind in ’n Afrikaanse skool in Pretoria wil plaas, moet jy bereid wees om gemiddeld R27 735 per jaar vir ’n hoërskool en R14 600 vir ’n laerskool op te dok.
’n Opname deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) onder 110 Afrikaanse openbare skole landswyd, wys die duurste Afrikaanse skole is in Pretoria. Die data is ingevorder deur ’n vraelys na lede van die SOS uit te stuur, sowel as om skole direk te kontak vir die inligting.
Van al die hoërskole wat die SOS bekyk het, is Afrikaans Hoër Seunskool die duurste Afrikaanse skole. Ouers sal volgende jaar R41 000 per kind opdok vir ’n jaar se onderrig aan dié spogskool. By Afrikaans Hoër Meisieskool betaal ouers volgende jaar R40 000 per kind. Die duurste laerskool is Lynnwood Laerskool, teen R21 465 per jaar. Ander duur skole in Pretoria is die Hoërskool Menlopark (R37 000 ’n jaar), Hoërskool Waterkloof (R32 400 ’n jaar) en Hoërskool Garsfontein (R30 000 ’n jaar).
Hoërskole in die res van Gauteng, insluitend Johannesburg, die Oos-Rand en die Vaal Driehoek, se jaarlikse skoolfonds beloop gemiddeld R16 397, heelwat minder as in Pretoria. Die duurste Afrikaanse skole hier is Noordheuwel, teen R27 200 ’n jaar. Laerskole in die res van Gauteng beloop gemiddeld R12 900 ’n jaar.
Teen R22 574 ’n jaar is hoërskole in en om Kaapstad duurder as in Johannesburg, maar steeds nie so duur as in Pretoria nie. Laerskole in Kaapstad en omliggende areas vra gemiddeld R13 469 ’n jaar, ook goedkoper as in Pretoria. Die duurste skool waarna die SOS hier gekyk het, was Paul Roos Gimnasium, teen R37 000 ’n jaar vir 2019.
Hoërskole in die Vrystaat se skoolfonds vir volgende jaar is gemiddeld R16 485 en vir laerskole sal ouers volgende jaar gemiddeld R9 401 betaal.
Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS, sê skole in Pretoria loop deur onder besonders duur munisipale kostes. “Skole is maklike teikens vir munisipaliteite om tariewe soos water, elektrisiteit en eiendomsbelasting te verhoog. Van die skole hier het ook baie duur betaal om slimmeters (smart meters) te laat installeer,” sê Buys. Die hoof van ’n laerskool in Pretoria sê Tshwane -stadsraad het die skool verplig om ’n slim meter te installeer en nou betaal hulle R12 000 ’n maand net om die meter te hardloop. “Ons het boonop geen manier om te weet hoe akkuraat die meter is nie en betaal soms tot R130 000 ’n maand aan elektrisiteit,” sê die hoof.
Die SOS se opname het ook gewys dat die skoolfonds van openbare skole vanaf 2018 na 2019 ver bo inflasie toegeneem het – in sommige gevalle met tot 19%.
“Hoewel Afrikaanse skole se finansiële bestuur baie goed is, word skole genoodsaak om die skoolfonds te verhoog, omdat al meer ouers jaarliks kwytgeskeld word van skoolgeld. Skole word deur die wet verplig om ouers wat nie die skoolfonds kan bekostig nie, kwyt te skeld, maar provinsiale regerings vergoed skole vir slegs ’n minimale persentasie van die bedrag wat hulle jaarliks kwytskeld,” sê Buys. “Daarom dat ander ouers nou ’n bykomende las moet dra ten einde die skool se inkomste aan te vul.”