Boelies. Dis ‘n woord wat party mense se nekhare laat regop staan. Ons almal was een of ander tyd óf geboelie, óf die een wat die boelie-werk gedoen het.
Dertig jaar gelede was daar reeds boelies gewees, maar dertig jaar gelede het sosiale media nie bestaan nie. Dit is baie moeiliker om iets vir iemand in hul gesig te sê as wat jy dit op sosiale media uitblaker. Glo dit of nie, maar boelies hou ook nie altyd daarvan om ander mense te sien huil nie. Vandag is ons baie braaf omdat ons in die gemak van ons eie huis agter ‘n skerm en skuilnaam kan wegkruip en vir iemand waarvan ons nie hou nie, lelike dinge te sê wat daardie persoon seermaak.
Ons sien elke dag hierdie tipe optrede op sosiale media. Van “Jy’s vet” tot “Ek wens jy kan jouself doodmaak”. Volgens www.dosomething.org sê 81% van jongmense dit is baie makliker om iemand te boelie oor ‘n foon as wat dit is om iemand fisies te boelie.
Te danke aan slimfone en sosiale media, is dit deesdae ook baie moeiliker om boelies te vermy. Dit is nie meer net by die skool of werk wat ons geboelie word nie, want ons slimfone volg ons soos ’n skaduwee. Ons is nou 24 uur ‘n dag en 7 dae ‘n week beskikbaar vir boelies.
Kuberboeliery is baie gewild onder kinders tussen die ouderdom van 11 en 18 en word beskou as een van die redes vir ’n toename in selfmoorde onder jongmense. Dit gebeur meer gereeld as wat jy dink en dit gebeur onder jou neus. Ingevolge TeenSafe se statistieke, het 30% van die jeug gedagtes oor selfdood, hierdie is ‘n 5% styging vanaf 2013.
Tieners dink omdat hulle “gesigloos” is, is hulle anoniem, maar dit is nie die geval nie. Boelies op sosiale media kan steeds vervolg word.
Elke keer wanneer jy op ‘n webtuiste ingaan en iets soek of stuur, skep jy vir jouself ‘n IP (Internet Protokol) adres. Met hierdie IP-adres kan kuberspeurders jou enige tyd opspoor. Baie platforms soos Qooh.me (‘n vra-‘n-vraag platform) sal jou laat glo dat jy anoniem is, maar dis ’n leuen. Gaan lees maar die Termes and Voorwaardes. Moet nooit dink dat jy ‘n anonieme platform kan gebruik om na hartelus iemand anders te boelie, haatspraak te gebruik of te seksklets nie, jy kan baie vining opgespoor word.
Die reël bly staan – as jy nie bereid is om dit in iemand se gesig te sê nie, bly eerder stil.
deur Carla de Beer van The Digital Law Company