deur Elisma van der Watt
Eeue lank al word mense – jonk én oud – betower deur die woorde “Eendag lank, lank gelede was daar …”. Dit skep ’n verwagting van ’n wonderwêreld wat wag: die wonderwêreld van ’n verhaal én die wonderwêreld wat deur die verbeelding geskep word. Sprokies is ’n onontbeerlike element van kinders se opvoeding.
Of sprokies nou deur middel van ’n prenteboek, dans, beelde, wiskundevergelykings, liedjies of mondelinge vertel word, dit bly een van die mees fundamentele maniere waarop ons kommunikeer. Juis daarom is dit ideaal vir die eerste ontwikkelingstappe in ’n kind se lewe. Sprokies stimuleer die verbeelding omdat dit oor eeue heen gevorm is en van geslag tot geslag oorgedra word.
Alle sprokies draai om ’n teenstelling, hetsy tussen goed en kwaad, dwaas en slim, of mooi en lelik, en bevat die een of ander magiese verandering. Sprokies is altyd eenvoudig en verstaanbaar, maar beskryf ook altyd ’n wonderwerk.
Voordele van sprokies
Wat is mooier en lekkerder vir ’n kind as om te luister hoe Pa of Ma ’n sprokie voorlees? Maak dit ’n interaktiewe en kreatiewe ervaring vir die kind; verduidelik die boodskap wat oorgedra word, en vra hoe die kind dit verstaan. Die voorlees van sprokies hou ook sielkundige voordele in deur negatiewe emosies by kinders te verlig. Wetenskaplike navorsing het getoon dat wanneer ’n mens hardop vir kinders voorlees, daar etlike miljoene neurale verbindings in die kind se brein vorm, wat breinaktiwiteit verbeter. Voorlesing word ook vir kinders met gestremdhede aanbeveel om met breinontwikkeling te help.
Daarbenewens skep die lees en vertel van kinderverhale ’n platform om goeie maniere by kinders in te skerp. Die meeste kinders vereenselwig hulle immers met sekere sprokieshelde en volg hulle voorbeeld van regte en verkeerde optrede. Die voorlees van sprokies is boonop een van die beste maniere om jou kind ’n tweede taal te leer. Die geheim hier is om te wag totdat jou kind se eerste taal al redelik goed vasgelê is. Kinders moet dus eers hulle moedertaal goed kan praat, verstaan en vertolk voordat ons met voorlesings in ’n tweede taal begin.
Voorleeswenke
Met elke sprokie wat kinders lees of na luister, word hulle wêreld ’n bietjie groter en ryker. Hier is enkele wenke om die magiese wêreld van verhale en sprokies vir jou kinders te ontsluit:
· Hedendaagse kinders verstaan nie die verhale en helde uit Ma en Pa se jeug nie. Kies dus meer moderne verhale met bekende karakters soos Harry Potter, Peter Pan of kaptein Jack Sparrow.
· Hou by sprokies met ’n rustige storielyn as julle voor slapenstyd lees.
· Sprokies is nie net gemaak vir lees nie, maar ook vir opvoer. Opvoering van kinders se gunstelingsprokies kan hulle vrese en skaamheid help oorkom.
· Kinders wat nie tuis voel op die ‘verhoog’ nie, kan hulle gunstelingsprokies op die tekenbord uitbeeld.