
Die SOS het navrae aan Solidariteit se Regsdienste gerig om skole se regsposisie ten opsigte van Covid-19 te bepaal. Weens die onsekerheid oor baie van die aspekte moet hierdie vrae nie geag word as ʼn formele mening nie. Die vrae word beantwoord na aanleiding van die inligting wat beskikbaar is en soos wat dit deur die bestaande regulasies neergelê word.
Wat is die reg van skole om aan te dring dat onderwysers terugkeer skool toe?
In terme van die regulasies wat bepalings bevat om die maatreëls vir Vlak 4 se inperking te reguleer, word bepaal dat skole en werksplekke voorbereid moet wees om werkers te laat terugkeer werk toe. Behoorlike voorbereiding moet gedoen word ten einde die verspreiding van Covid-19 te beperk. Daar word egter ook verwag dat veiligheidsmaatreëls in skole toegepas moet word. Skole moet aan die riglyne voldoen, in samewerking met die Departement van Gesondheid voordat enigiemand kan terugkeer skool toe. Daar is wel deur die Minister afgekondig dat onderwysers teen 18 Mei 2020 moet terugkeer skool toe ten einde voor te berei vir die leerders wat op 1 Junie 2020 vir skool moet rapporteer. Indien ʼn werknemer van mening is dat die werksplek/skool onveilig is en gesondheidsrisiko’s bevat, moet voldoende bewyse van onveilige werksareas gelewer word. Tot en met sulke bewyse nie voorgelê kan word nie, sal enige afwesigheid as onbetaalde verlof geag word. Verder tot die bogenoemde, indien ’n werknemer versuim om ’n billike en wettige instruksie van die werkgewer uit te voer, kan dit as insubordinasie beskou word. Die maatstaaf in arbeidsreg is gegrond op billikheid en regverdigheid. In die unieke omstandighede waarin werkgewers en werknemers hulle tans bevind, sal dit nie onbillik van ’n werkgewer wees om sy werknemers te verplig om te rapporteer vir diens nie.
Wat is die posisie van onderwysers wat ouer is en aan ander siektetoestande lei wat hulle in hoërisikogroep plaas, om terug te keer skool toe?
Die CDC (Centers for Disease Control and Prevention) bepaal diegene wat meer vatbaar is vir die Covid-19. Dit sluit in individue bo die ouderdom van 60 jaar en individue, van enige ouderdom, met die volgende onderliggende siektes:
- Kroniese longsiektes of matige asma;
- Ernstige hartsiektes;
- Diabetes;
- Kroniese niersiektes;
- Lewersiektes; en
- Mense met immuunonderdrukking, soos byvoorbeeld kanker behandelde pasiënte, beenmurg of orgaanoorplanting, ensovoorts.
Werkgewers moet ʼn lys van personeel opstel wat kwesbaar is en wat tuis kan werk. Indien die personeellid daarop aandring om skool toe te gaan, moet dié indiwidu ʼn brief skryf wat aandui dat hy/sy self die risiko neem en die werkgewer nie aanspreeklik gehou sal word indien die personeellid siek word nie.
Regulasies en die afkondiging gemaak deur die Minister, maak nie daarvoor voorsiening dat persone ouer as 60 jaar of met ʼn siektetoestand weerhou moet word om te rapporteer vir werk nie en daar moet met omsigtigheid opgetree word dat daar nie teen diesulke persone gediskrimineer word nie. Die dienskontrak bly bestaan tussen die werkgewer en werknemer en daar berus nog ʼn verpligting op beide die werkgewer en werknemer om die terme en voorwaardes van die kontrak na te kom. Verder tot bogenoemde: indien ʼn ouer persoon nie van die huis af kan werk nie, sal die werkgewer dit moet oorweeg om ekstra persoonlike beskermings toerusting (PPE) te voorsien en strenger maatreëls toe te pas op hierdie individu, byvoorbeeld in plaas van 1.5 meter afstand hou moet daar ‘n 2 meter afstand gehou word.
Mag skole vroeër en met meer grade heropen as net met die matrikulante en graad 7’s vanaf 1 Junie 2020?
In terme van die DBO se verklaring uitgereik op 7 Mei 2020, word daar pertinent gewaarsku dat skole nie vroeër mag heropen nie. Voordat skole kan heropen, is daar ook sekere vereistes waaraan voldoen moet word. Die DBO het op 28 April ‘n riglyn dokument uitgestuur: “Final criteria for opening of schools”. Hierdie dokument is ook beskikbaar by www.skole.co.za/publikasies.
Hoeveel kinders mag in ʼn klaskamer wees onder Vlak 4-maatreëls?
Daar is geen aanduiding oor hierdie aspek nie. ‘n Mens kan wel aanvaar dat Artikel 5 van die Disaster Management Act 2002, Regulation issued in terms of Section 27(2) onderteken 28 April 2020, toepaslik gemaak sal word ook in die skole. Die artikel bepaal dat besighede moet kyk na die area van die vloer in vierkantemeter en gebaseer daarop bepaal hoeveel mense toegelaat sal word in ʼn vertrek, in ag genome die 1.5 meter afstand wat behou moet word. My mening in hierdie geval sal wees dat elke klaskamergrootte verskil en daar sal nie ʼn voorgeskrewe getal per klaskamer gegee kan word oor die hoeveelheid kinders wat in ʼn klas mag wees nie. Die getal kinders per klaskamer sal afhanklik wees van die grootte van die klaskamer.
Watter ondersteuning kan skole van die DBO/provinsiale departemente te wagte wees?
Dit is tans ʼn besprekingspunt. Die Departement beplan om persoonlike beskermingstoerusting (PPE) aan die skole te verskaf, maar ons sal moet wag vir die uitklaring van die Departement. Indien skole hierdie ondersteuning van die DBO verwag, moet ‘n mens ook die uitvoerbaarheid daarvan bepaal en of dit teen die vasgestelde datum van 18 Mei 2020 uitgevoer sal kan word.
Wat is die reëlings vir kleuterskole met kinders jonger as graad R wat onder die Departement van Maatskaplike ontwikkeling val?
EDUX, SOS en SA Childcare tree op as spreekbuise vir dié kleuterskole. Daar is al vele korrespondensie aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gestuur, maar kry tans nog geen reaksie van dié Departement nie. Die laaste kommunikasie wat hulle van die Departement ontvang het, was in Maart 2020 toe die kleuterskole in kennis gestel is dat alle skole moet sluit. Dit veroorsaak groot finansiële probleme vir die kleuterskole omrede baie ouers weier en/of nalaat om skoolfonds te betaal. Indien hierdie toedrag van sake voortduur, sal baie kleuterskole nie weer hulle deure kan heropen nie.
Wat van onafhanklike skole? Mag hulle eie datums vir hervatting van kontakklasse vasstel, solank hulle aan veiligheidsvoorskrifte voldoen?
Op 5 Mei 2020 is daar ‘n onderhoud hieroor met die Uitvoerende Direkteur van ISASA (Independant Schools Association of South Africa), Lebogang Monjane gevoer. Tydens hierdie onderhoud het hy bevestig dat hulle wel daaglikse sifting sal doen en het ook hulle eie planne in plek om skole te beveilig, maar volg nog steeds die Minister se plan en gaan nie oopmaak voordat die ander skole oopmaak nie. Hy het verder bevestig dat privaatskole vir ʼn geruime tyd ʼn kombinasie gaan doen van kontakleer en aanlyn leerprogramme. Skole gaan net die leerders inneem wat volgens die regulasies mag ingeneem word. Onafhanklike skole hoop dat die Minister vir hulle die keuse sal gee om te kies watter grade eerste moet terugkeer skool toe, siende dat die Uitvoerende Direkteur van mening is dat Graad 1 en Graad 12 die belangrike grade is wat nou moet terugkeer skool toe. Vir tyd en wyl voldoen hulle aan die Minister se regulasies vir Vlak 4-inperking.
Die Minister het bevestig dat hulle planne vir terugkeer by die NCC (National Coronavirus Committee) ingedien het en wag nog vir hulle terugvoer en goedkeuring. Tot dan is ons afhanklik van die regulasies soos wat dit tans uitgereik is en is ons in afwagting vir die DBO se onderwys riglyne vir die pad vorentoe.
Regsadvies gelewer deur Nicolette Ras
Solidariteite Regsdienste