Blog

ʼn Onderwyser is ʼn gebore “ghoeroe”

Deur Sarina Prinsloo – Skakelbeampte: SOS

Nuus, goed of sleg, is die afgelope 10 jaar my brood-en-botter. Soms gee dit ‘n mens energie en soms voel jy of jy in ’n donker gat iewers weg van al die negatiwiteit wil gaan kruip tot dit verby is. Daar is egter ook ligstraaltjies in die massa negatiewe media wat my soms laat moed skep en bewys dat innoverende denke meer werd is as hulpbronne. Ek deel graag twee van die stories hieronder.

Die Mkondo House School in die dorp eMkhondo, voorheen bekend as Piet Retief, is ‘n klein, onafhanklike skool vir armer gemeenskappe in Mpumalanga. Soos tans die geval is by baie ander skole in Suid-Afrika, het ouers by die skool ook opgehou om skoolgeld te betaal en daar moes blitsvinnig ‘n plan beraam word. Eugene Nel, self  ʼn entrepreneur en sy span onderwysers en leerlinge hier, het bewys dat hulle omstandighede en die inperking as gevolg van die COVID-19-pandemie nie  ʼn struikelblok hoef te wees nie. Kyk gerus hulle storie hier:

Baie gemeenskappe sukkel met toegang tot aanlyn oplossings, bloot omdat hierdie toegang afhang van toegang tot bekostigbare data.

Die Hoërskool Krugersdorp het hierdie probleem op ʼn kreatiewe manier die hoof gebied deur ‘n ingangsdata-sentrum (oftewel drive-through) op sy sportveld op te rig. Ouers kan net na die skool ry, hul motors parkeer, aanteken met die skool se Wi-Fi en studiemateriaal vir hul kinders so aflaai. Lees hulle storie hier: https://www.iol.co.za/the-star/news/krugersdorp-high-sets-up-drive-thru-data-centre-for-parents-to-download-study-material-for-pupils-47975230

Die Afrikaanse spreekwoord lui nie verniet: waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg, nie. Daar is altyd ʼn plan te maak, maar gewoonlik hou vrees jou terug. Vrees vir die onbekende en onbeproefde, daai goed wat mens nog nooit self probeer uitpluis het nie, want die kans bestaan dat ek my hele rekenaar se inhoud per ongeluk kan uitwis met die (verkeerde) druk van ʼn knoppie.

Moet ons nie eerder fokus op ons potensiaal nie? Dis ʼn saadjie wat binne-in ons almal geplant is en nooit doodgaan nie. Jy as onderwyser straal hierdie potensiaal uit en na my mening maak dit van elke onderwyser ʼn gebore ghoeroe. Jou geloof in die potensiaal van elke kind voor jou, is dalk al wat hulle nodig het om suksesvolle volwassenes te word.

Die woord “ghoeroe” beteken vir die meeste van ons dat iemand ʼn leermeester is of iemand wat alles van ‘n bepaalde onderwerp af weet. ʼn “Ghoeroe” is egter meer as net ‘n onderwyser. In Sanskrit beteken die woord: iemand wat die duisternis verdryf en ander na die lig lei. Nes die tradisionele ghoeroe is onderwysers ook “beraders” wat help om waardes te vorm en help met die geestelike groei van leerders.

Onderwysers het ʼn ingebore talent en passie vir onderrig, maar word terselfdertyd gevorm deur hul talent verder te ontwikkel en nuwe en bestaande vaardighede te verbeter. Om onderrig te gee nie is nie kinderspeletjies is nie, maar vir die onderwysers wat passievol daarmee omgaan, word dit ʼn roeping en dán word jy ʼn ware ghoeroe. Iemand wat nie net inligting oordra nie, maar iemand wat vooruit stap en ʼn voorbeeld stel vir ander om te volg.