Blog

“Skoolgaan is goed vir kinders”

deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: SOS

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ’n formele skrywe aan die minister van Basiese Onderwys sowel as die minister van Maatskaplike Ontwikkeling gerig, om aan te dring dat skoolbeheerliggame toegelaat word om te besluit wanneer hul skole gereed is om onderrig te hervat. Skole ken hul eie omstandighede en kan self bepaal hoe die infasering van grade ten beste gedoen kan word.


Die SOS verwelkom die feit dat minister Angie Motshekga bevestig het dat leerders regoor die land wel op 1 Junie moet begin terugkeer skool toe, maar dring aan op meer magte aan skole en provinsies om hul eie terugkeerplanne te maak. Volgens die minister se plan sal slegs Gr. 7 en Gr. 12-leerders op 1 Junie met kontakonderrig begin, terwyl ander grade mettertyd ingefaseer word.


Die veiligheid van leerders en onderwysers is net so belangrik soos die reg van leerders om onderrig te ontvang. Maatreëls om gesonde skole te verseker, is weke gelede al duidelik uitgespel – provinsiale onderwysdepartemente sukkel nog net om daaraan te voldoen. Daar is egter van die regering se kant nog bitter min detail bekend gemaak oor die plan wat gevolg gaan word om verlore skooldae in te haal of hoe die infasering van die verskillende grade in die skole sal geskied.


Baie skole het verlede week reeds aangetoon dat hulle alle gesondheidsmaatreëls in plek het om kontakonderrig geleidelik te hervat. Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, sê hy is dankbaar dat kleuterskole moontlik vroeër kan begin, maar dat datums hiervoor bekend gemaak moet word. “Sentralisering van mag veroorsaak dat almal teen die pas van die stadigste vorder. Meer vryheid moet aan beheerliggame en onafhanklike skole se bestuur gegee word om besluite in die beste belang van hul leerders te kan neem.”

Die SOS se aanlyn leerplatform, Die Wolkskool, het hul gratis diens aan skole uitgebrei deur nuwe funksionaliteit bekend te stel om onderwysers te ondersteun met aanlyn onderrig, terwyl alle leerders steeds nie terug is by die skool nie. Die SOS se veilige terugkeerplan vir skole , wat in samewerking met skoolhoofde en kundiges opgestel is, kan pasgemaak word vir elke skool se omstandighede n.a.v. gesondheidswetgewing en beste praktyke wat in ander lande suksesvol was. Dit sal verseker dat leerders en onderwyspersoneel se gesondheid vooropgestel word en dit moontlik maak om onderrig veilig en gesond te hervat.