deur Tharien Bezuidenhout
Geregistreerde Dieetkundige
“Hawermout??? – Eeuw” – So sê jou kind gedurig met ʼn gesig wat lyk asof die wêreld vergaan. Die waarde van goeie voeding word dikwels onderskat. Ons weet dat kinders (en volwassenes) gesonde kos nodig het vir optimale konsentrasie, energie, groei en ʼn gesonde liggaam. Hoe gemaak as jou kind sy neus optrek vir gesonde kos?
- Jy is die voorbeeld
Onthou jou kind hou jou met ʼn valkoog dop. ‘As mamma nie ontbyt eet nie, hoekom moet ek?’ As pappa nie pampoen eet nie, gaan boetie verseker ook nie. Maak dus seker dat jy self al die gesonde kos eet (selfs al is dit nie ʼn gunsteling nie). As ouers is julle ʼn span om te verseker dat julle gesin ʼn gesonde eetpatroon handhaaf. Teen die ouderdom van een jaar kan ʼn kind dieselfde as die res van die gesin eet. Dit is dus onnodig om net hoendernuggets en aartappelskyfies vir jou kind te gee, hulle kan ʼn hoenderboudjie, gekookte aartappel en groente eet. Maak ook ʼn punt daarvan om ten minste een ete per dag as ʼn gesin saam te eet.
- ‘Huisreëls’
Besluit saam op huisreëls bv. Ons drink net water deur die week, dan kan ons een glasie vrugtesap/gaskoeldrank oor die naweek drink. Of ons gaan net een tot twee keer ʼn maand wegneemetes koop.
- Gesonde yskas en gesonde koskas
Dit is grotendeels die ouer wat die kos koop, gaarmaak en kosblikke pak. As ouer is dit jou verantwoordelikheid om seker te maak jou kind het toegang tot gesonde kos- en peuselhappies. Ook dat jou kind nie vrylik toegang tot die koekie- of lekkergoedblik het nie. ʼn Goeie manier om te verseker dat jou kind nie ongesonde kos eet nie, is om dit nie as ʼn reël in die koskas te hou nie. As lae GI, volgraanbrood die enigste opsie is, gaan jou kind dit heelwaarskynlik eet.
- Maak jou kind deel van die kos proses
Neem jou kind saam na die groentewinkel en laat hulle self ʼn ‘nuwe’ vrug of groente kies wat hulle sal probeer. As hulle al oud genoeg is, laat hulle self ʼn resep soek wat die produk bevat en dan saam met jou kosmaak.
- Leer jou kind die waarde van gesonde kos
Verduidelik aan jou kind die rede vir gesond eet op ʼn vlak wat hulle sal verstaan. As kinders die waarde van gesond eet verstaan, dan sal hulle die gesonde keuses soveel makliker maak.
Groente en vrugte is beskermkos met hope vitamines om jou gesond te hou.
Volgraan koolhidrate, bv. Patats, volgraan pasta, rys, aartappels, mielies en gesonde vette bv. Neute, sade, avokadopeer en visolie is energiekos wat jou sal help om flink te dink en nie slaperig te voel nie.
Maervleis, bv. Hoender en vis, eiers, laevet kaas en suiwelprodukte, lensies en bone is boukos vir sterk spiere en om goed te groei.
- Wees konsekwent
Indien jou kind nie al hulle kos vir aandete opeet nie, bêre die kos in die yskas. Wanneer hulle oor ʼn uur kom kla dat hulle honger is, maak die kos weer bietjie warm en dit is dan hulle opsie. Hulle mag dit dalk weier, maar wees versigtig om nie ʼn ander ‘maklike’ alternatief voor te stel nie. Kinders is meestermanipuleeders. Hulle sal net 1 of 2 aande honger gaan slaap en dan die gesonde kos wat jy hulle bied eet.
Alhoewel dit makliker is om ʼn kind te leer om gesond te eet vandat hulle begin vaste kosse eet, is dit nog nie te laat nie. Dit gaan dissipline en uithouvermoë verg, maar die voordele is beslis baie meer as die moeite. Hoekom jou kind se gesondheid benadeel as jy vir hulle die beste voeding kan gee?
Vir meer inligting kontak Tharien Bezuidenhout by 084 587 1885 of [email protected]. Sy is ʼn geregistreerde dieetkundige in Pretoria. As jy ver bly, onthou dat ʼn virtuele konsultasie altyd ook ʼn opsie is. Sy is passievol oor gesonde eetgewoontes vir die hele gesin – selfs al het jy gesondheiduitdagings. Sy het haar M-Nutrition oor ‘Allergieë in kinders’ gedoen en weet dat die uitdagings rondom allergieë uiters oorweldigend is.
Goeie voeding is ʼn vorm van self-respek.