deur Sarina Prinsloo
Kommunikasiespesialis: SOS
Elke moeder-hen wil haar kuikens beskerm. Dis in ons wese ingebou om te nes skrop, hulle te koester en teen enige seer te beskerm.
Maar, hoe moeilik dit ook al is, te veel beskerming steel van hulle die kans om te groei.
Ons kuikens moet leer om mislukkings te hanteer, om weer op te staan, weer te probeer, en uiteindelik sterker te word.
Want nie almal kry ’n medalje nie…en dis oukei. 🥇
🐥 Wanneer die kuikens teleurgesteld is
Dis akademiese toekenningsaand.
Die kuikens het hard gewerk, maar stap weg sonder ’n toekenning. Moeder-hen se hart pyn saam. 💔
Of hulle het ure lank geleer, maar kry nie die verwagte A-simbool nie.
Of dalk word een nie na ’n maatjie se verjaarsdagpartytjie genooi nie…en weer krimp jou hart ineen.
Dis alles deel van die lewe. En ja, dit gaan teen ons grein om nie in te gryp nie. Maar soms is nie help nie die grootste geskenk wat jy kan gee. 🌱
🪺 Om kuikens voor te berei vir die wêreld daar buite
Ons kuikens gaan eendag die nes verlaat.
Dis ons taak om hulle as gebalanseerde, selfstandige jong volwassenes die wêreld in te stuur.
Kuikens wat:
✅ self kan nes skrop
✅ self konflik kan hanteer
✅ self moeilike situasies baas kan raak
Want kuikens wat nooit leer om mislukkings te hanteer nie, word angstige volwassenes wat altyd iemand anders nodig het om dinge reg te maak.
🌻 Mislukkings as boustene vir sukses
Mislukkings is deel van die kronkelpad na sukses.
Om te misluk, weer te probeer en weer te misluk…dit vorm karakter en bou veerkragtigheid.
Elke keer wat jou kuiken opstaan ná ’n val, word die fondasie sterker.
Hulle leer selfstandig wees, verantwoordelikheid neem en met moed aanhou probeer. 💪🐤
💬 Hoe verwerk ons mislukkings?
Hier is ‘n paar praktiese maniere om jou kuiken te help groei na ‘n teleurstelling:
🌸 Hou kommunikasie oop.
Gesels gereeld oor dinge wat spanning of hartseer veroorsaak. Moenie raas nie…luister om te luister. 👂
👑 Respekteer die onderwyser.
Hou die spreekwoordelike “kroon” op hul kop.
Moet nooit voor jou kind oor ’n onderwyser kla nie. Dit breek respek af en neem belangstelling weg.
Onthou: jy het dalk drie kuikens by die huis, maar die onderwyser dra die verantwoordelikheid vir byna veertig.
🪶 Lei, moenie oplos nie.
Help jou kind dink deur vrae te vra soos:
- “Wat kon jy anders gedoen het?”
- “Hoe kan jy dit volgende keer beter aanpak?”
- “Wat het jy geleer?”
🌾 Moenie elke probleem namens hulle oplos nie.
Gee hulle kans om self sosiale vaardighede te oefen.
🤝 Bou vennootskappe met die onderwyser.
Werk saam, nie teen mekaar nie. Dis ’n spanpoging.
🌈 Die kronkelpad van groei
Die pad na sukses is nooit reguit nie.
Sukses kom deur te misluk, weer te probeer en nuwe oplossings te ontdek wat jou weer nader aan jou doel neem.
Soms is dit ‘n siklus van doen, probeer, doen weer, tot die lekkerte van sukses, soms eers na ‘n klompie (lewens)lesse, uiteindelik joune is.
Mislukkings bring buite-die-boks-denke, innovasie en veerkragtigheid.
En hoe vroeër ’n kind leer om teleurstellings te oorbrug, hoe beter is hulle toegerus vir die lewe. 🌟
“Mislukking en teleurstelling is altyd ’n kombinasie van gevaar én geleentheid.”
’n Kans om te groei, te leer — en om sterker te word as ooit tevore. 💛
🐣 Slotgedagte
Moeder-hen, jy hoef nie altyd die klippe uit jou kuikens se pad te hou nie.
Soms is die storm die beste onderwyser. ⛈️
Laat hulle struikel, en self leer vlieg, want eendag sal hulle hul eie nes skrop, met dieselfde liefde en wysheid waarmee jy hulle grootgemaak het. 💛