Teen die agtergrond van die druk op Afrikaanse skole en talle probleme wat jaar na jaar met die graad 1- en graad 8-toelatings in Gauteng ondervind word, raai die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ouers aan om die aanlyn aansoekproses reeds op Dag 1 (22 Julie) te voltooi.
Aansoeke wat eerste ontvang word en aan al die kriteria voldoen, sal voorrang bo dié van leerders wat later aansoek gedoen het, geniet.
“Ouers word ten sterkste aangeraai om die nodige dokumente (volgens Stap 5) per hand by die skool van keuse in te dien en nie direk op die stelsel nie,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS. “Die waglysnommer (Stap 4) wat deur die stelsel uitgereik word, moet veilig bewaar en altyd byderhand gehou word, aangesien dit die skool help om die aansoek na te speur.”
Die hersiening van die aanlyn stelsel en die wegdoen met die tweefasebenadering van verlede jaar, word verwelkom. Alle aansoekers kan dus vanjaar gelyktydig aansoek doen.
Ouers van voornemende graad 1- en graad 8-leerders kan van 08:00 op Vrydag 22 Julie aanlyn registreer by www.gdeadmissions.gov.za. Volg die 5-stap aansoekproses noukeurig.
Ouers wat versuim om dokumente ná die aansoek op te laai óf in te dien, se aansoeke sal as onvolledig beskou word en as laat aansoeke hanteer word. Dié leerders sal eers van 1 tot 15 Desember by beskikbare skole geplaas word.
Aansoeke sluit op 19 Augustus 2022 en plasings van voltooide aansoeke sal van 3 tot 31 Oktober plaasvind.
Die SOS het ʼn gids opgestel om ouers met die proses by te staan.
Laai gids hier af