Blog

Oorlewingsgids vir Graad 4-mamma’s – Huiswerk

deur Hildegard Brummer – Wolkskool-dosent

Die groot dag het uiteindelik aangebreek, boetie of sussie moet vandag met graad 4 begin en mamma se hart is maar baie broos. Dit is die begin van ‘n nuwe fase in beide jou en jou kind se lewe en jy is nie mooi seker hoe jy hierdie jaar gaan oorleef nie. ‘n Nuwe program, nuwe skool-ure, nuwe aktiwiteite, nuwe onderwysers, eerste klastoets, eerste eksamen, nuwe vakke, meer huiswerk en dit voel asof die lys net nooit ophou nie. Die goeie nuus is dat jou klein lyfie nie die eerste een is om hierdie groot stap aan te pak nie.

In hierdie reeks blogs gaan ek vir jou ‘n paar oorlewingswenke gee om met ‘n geruste hart deur hierdie jaar te kom. In hierdie eerste blog kyk ons na huiswerk.

Graad 4 is die jaar waar huiswerk vir meeste ouers en kinders ‘n realiteit word. Gedurende die grondslagfase was huiswerk ‘n takie wat elke middag afgehandel word om gou die dag se werk in te oefen. In Graad 4 word hierdie inoefen takies vervang met meer komplekse werksvelle wat ‘n uitbreiding is op die dag of week se werk. In sommige gevalle is huiswerk selfs voorbereiding vir die week se werk en is daar nog geen voorkennis van die werk nie. Dit gebeur so gereeld dat ouers van  Graad 4-leerders voel dat hul kinders oorlaai word met onnodige en sinnelose huiswerk. Hoekom moet my kind al hierdie werk by die huis doen as hy reeds die heeldag by die skool was?

In ‘n artikel geskryf deur Ramdass en Zimmerman, van die Universiteit van New York, vind ons die antwoord. Daar is ‘n studie op Graad 4-leerders gedoen en is daar gevind dat daar ‘n positiewe verwantskap is tussen huiswerk en selfdoeltreffendheid, selfrefleksie, verantwoordelikheid vir leer, konsentrasievermoë, bestuur van die omgewing, remming van afleidings en tydsbestuur. Die studie wys dat leerders wat in Graad 4 geleer is om selfstandig huiswerk te doen al hierdie waardevolle sleutelvaardighede (sagtevaardighede) aanleer en dat hul teen Graad 8 reeds hierdie vaardighede ten volle onder die knie het. Die antwoord is dus om met ander oë na huiswerk te kyk. Tradisioneel word huiswerk gedefinieer as opdragte wat aan leerders voorgeskryf word deur onderwysers om na skool-ure te voltooi. H.Cooper het in 2006 hierdie definisie aangepas en gesê dat huiswerk gesien moet word as take wat deur leerders uitgevoer moet word buite onderrigtyd.

Liewe Graad 4-ouer, die antwoord tot die oorlewing van Graad 4-huiswerk is dus eenvoudig –  verander jou en jou kind se definisie van huiswerk. Hier is die belangrikste feite oor huiswerk vir jou om te onthou.

  • Huiswerk is nie ‘n straf nie.
  • Huiswerk is take wat jou sleutelvaardighede ontwikkel.
  • Huiswerk is nie noodwendig net skoolwerk wat tuis gedoen word nie.
  • Huiswerk kan skottelgoed was of grassny ook wees.
  • Leer jou kind die waarde van huiswerk eerder as om dit te sien as ‘n staf.
  • Soek die sleutelvaardigheid wat vasgelê word in elke takie wat tuis voltooi word eerder as om dit te probeer namens jou kind voltooi.
  • Help jou kind om deur huiswerk voor te berei vir die wêreld wat op hul wag, nie alles op een slag nie, maar eerder soos mens ‘n olifant opeet: stukkie vir stukkie.

Die Wolkskool is ‘n wêreldklas aanlyn leerplatform en bied lesse in 8 laerskool en 16 hoërskoolvakke.
Ons maak van die nuutste tegnologie gebruik om jou die beste aanlynleerervaring in Afrikaans te bied.