André Badenhorst
Opvoedkundige navorser: SOS
Met opkomende, hoogs ontwrigtende tegnologieë soos Neuralink lyk dit of sekere aspekte van transhumanisme bereik kan word – iets wat voorheen ondenkbaar was. Transhumanisme streef na biologiese onsterflikheid, hoë menslike funksionering en optimale intelligensie. Daar is nog baie etiese vrae rondom Neuralink omdat dit aan die kern van ons menslike bestaan raak. Kritiese denke bied aan ons die sleutel om die angel van hierdie tegnologie in die besonder, maar van digitale transformasie in die breë te trek en dit tot voordeel van die mensdom aan te wend, maar dan sal ons drasties ons kwaliteit van denke en die wyse van onderrig spoedig moet begin verbeter.
Onlangs tweet Elon Musk dat sy Neuralink nou uiteindelik die groen lig gekry het om die tegnologie op mense te toets en ek wonder dadelik hoeveel mense in die wêreld besef watter impak dit op die samelewing kan hê. As hulle met ChatGPT van hul stoele afgeval het, wil ek liewer nie weet wat hulle nou gaan oorkom nie. In eenvoudige taal beteken Neuralink dat jou brein met die blikbrein verbind kan word om jou breinaktiwiteit op ʼn rekenaar te kan prosesseer (selfs op te neem) of jou breinselle te stimuleer (manipuleer).
Kom ons rek hierdie gedagte ʼn bietjie verder en ons koppel 1 miljoen briljante fisici oor die ganse wêreld heen se breine deur internet aan mekaar, gooi iets soos ChatGPT bo-op dit en stel die vraag: Ontwerp ʼn bekostigbare atoomkragopwekker vir ʼn huishouding, nie groter as ʼn vuurhoutjieboksie nie en wat vir meer as drie generasies alle energie aan daardie huishouding sal verskaf.
Voordat een van die wetenskaplikes ʼn konsep in woorde kan omsit, stimuleer sy gedagte sekere breinselle in ʼn ander wetenskaplike se brein en voordat al die fisici iets kan agterkom, word verskeie assosiasies eksponensieel heen en weer tussen al hulle briljante breine oorgedra. Uiteindelik praat ons van een groot brein waar die geheel groter is as die som van die dele.
Met Neuralink word die grootste uitdaging van ons menslike bestaan moontlik, naamlik singulariteit. Dit is wanneer die kapasiteit van die rekenaar die gesamentlike breinkrag van alle mense oortref. Bereik ons daardie punt – Ray Kurzweil, ʼn kundige in Kunsmatige Intelligensie, sê dit sal so gou as teen 2043 gebeur – kan ons maar daarvan vergeet om die implikasies van tegnologiese vooruitgang te voorspel, te begryp en te beheer. Met al die geestesgesondheidskwessies wat al hoe meer na vore tree, kan ek nie eens dink aan die impak wat singulariteit op die mens se psige kan hê nie.
Om vir die bekommerdes onder ons verdere spoke op te jaag, raak Neuralink die onderwerp van transhumanisme aan. Met transhumanisme sal mense die vryheid hê om hul liggame en hul identiteit volgens behoefte te verander. Lui dit ʼn klokkie? Dit begin al klaar gebeur!
Dit is die wêreld wat ons kinders betree, of ons daarvan hou of nie. Die vermoë om krities te dink, sal bepaal of ons kinders bloot die ontvangers/verbruikers gaan wees van transformerende tegnologieë soos Neuralink en of ons kinders beheer daaroor sal hê om die ingrypende komplekse etiese, sosiale en filosofiese implikasies daarvan noukeurig te kan ontleed, behoorlik te kan evalueer, om uiteindelik kreatiewe deurbrake te kan help maak, soos om Neuralink eerder in te span vir individue met neurologiese toestande, soos verlamming of rugmurgbeserings.
Hier by die Skoleondersteuningsentrum weet ons deur middel van navorsing uit die neuro-, kognitiewe en die sosiale wetenskappe asook die Opvoedkunde baie goed dat kritiese denke al op voorskoolse vlak ontwikkel kan word. Ons weet egter ook dat min daarvan tot dusver tot op matriekvlak in hoofstroom onderwys tot sy reg kom en die vooruitsig dat dit sal regkom, lyk maar bra mistroostig.
Op skoolvlak kan en moet kinders al begin leer om die kernbeginsels van kritiese denke deel van hul daaglikse omgang met die kurrikulum te maak, soos om aannames te bevraagteken, vooroordele uit te daag en nuwe idees met ‘n rasionele en skeptiese ingesteldheid te benader. Kinders wat die kuns van leer bemeester het, hou nie daarvan om bloot net feite te memoriseer en in die eksamen weer te gee nie. Dit maak onderwys dood en die gejaag na punte frustreer almal. Gee eerder aan kinders ʼn onderwerp soos Neuralink, tesame met denkvaardigheid soos kritiese denke en hulle sal jou gou verbaas met hul insigte oor privaatheid, instemming, billikheid, die potensiaal van onbedoelde gevolge, om die potensiële risiko te identifiseer, die betroubaarheid van inligting te bepaal en die implikasie van opkomende tegnologieë op ons mensdom behoorlik te kan bedink.
In ons geestesoog sien ons kinders, wat in hul kultuurgemeenskap met Christelike waardes geanker is, sonder dat hulle identiteit bedreig word, onder mekaar konstruktiewe dialoog voer, hulle argumente met grondige punte verduidelik en met oplossings vorendag kom wat direk tot voordeel van hul eie gemeenskap strek. Ons sien onderwysers wat kinders intellektueel uitdaag (en vice versa), wat elkeen se potensiaal raaksien en hulle dit help bereik wat hulle bo die blikbrein laat uitstyg deur die ontwikkeling van hul ingesteldheid, emosies, sin vir die waarheid, intuïsie, verbeeldingskrag, visie en drome. As ons onderwys tot op daardie vlak kan lig, dan praat ons besigheid!
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum maak vanjaar ʼn deurbraak deur ʼn aanlyn kritiese denkvaardigheidstoets op 19 Julie 2023 aan skole en individuele leerders bekend te stel. Belangstellendes kan HIER registreer.