Blog

Waarom is skooltoelatings jaar na jaar ’n tameletjie in Gauteng?

Melanie Buys

Hoof van Ontwikkeling: SOS

Op 15 Junie 2023 gaan duisende ouers van voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders in Gauteng aansoek doen om in 2024 plek vir hul kinders in goeie skole te probeer verseker. Die meeste skole se opedae is reeds verby, maar ongeag hoe proaktief ouers (en skole) probeer optree, moet hulle elke jaar benoud wag om sekerheid te kry waar hul kind volgende jaar sal skoolgaan. Alles hang van Gauteng se Onderwysdepartement af wat die laaste groenlig hiervoor moet gee. Dit, ten spyte van die Skolewet van 1996 wat skoolbeheerliggame die reg gee om die toelatingsbeleid te bepaal én toe te pas.

Die einste Skolewet wat elke skoolbeheerliggaam die reg gee om toelatingsbeleid te bepaal en toe te pas, gee die provinsie se LUR van Onderwys die verantwoordelikheid om te verseker dat daar genoeg skole is om aan die provinsie se onderwysbehoefte te voldoen. En, wat gebeur in Gauteng?

Sedert 2012 het die leerdertal in Gauteng gegroei tot meer as 600 000. Mnr. Chiloane se voortvarende voorganger, LUR Lesufi, het honderde nuwe (broodnodige) skole belowe, maar daar is vandag slegs 25 meer openbare skole as in 2012.

Afrikaanse skole het dieselfde uitdaging: die Solidariteit Navorsinginstituut wys ‘n groot toename aan Afrikaanssprekendes in Gauteng, maar sedert 2012 is daar 69 minder Afrikaanse skole in die provinsie. Teen 2022 het die gemiddelde getal leerders in die oorblywende 246 Afrikaanse openbare skole gevolglik vanaf 590 leerders per skool tot 970 leerders per skool gestyg. Daar is wel ook ‘n groot styging in die aantal onafhanklike skole in Gauteng, maar onderrig in hierdie skole is hoofsaaklik in Engels. Dit lei daartoe dat daar tans 36 000 minder leerders as 10 jaar gelede is wat in Afrikaans kan skoolgaan, ten spyte van veel meer Afrikaanse mense in Gauteng! Dít sorg vir ’n groot tekort aan Afrikaanse skole in die provinsie.

Die ANC se pogings om goeie Afrikaanse skole te kaap, kan gefnuik word deur toegewyde ouers wat aansoek doen sodra die aanlyn registrasiestelsel open. As skole binne die eerste dag of twee reeds vol is met Afrikaanse aansoeke, is dit nie nodig om hulself te verdedig teen die aandrang om Engelse klasse in te neem nie. “Wat is een Engelse klassie nou as ons vier Afrikaanse klasse het?” vra baie mense. Ongelukkig wys syfers die afgelope 10 jaar daarop dat dit selde by een klasgroep bly en dat parallelmedium skole dikwels binne ‘n paar jaar heeltemal verengels. Konflik ontstaan as gevolg van ‘n gebrek aan hulpbronne.

Gehalteonderwys is ‘n onmisbare hulpbron wat ‘n gemeenskap se toekoms kan verseker. Eerste in reg, eerste in plek – first come first served – is gelukkig steeds ‘n erkende regsbeginsel. Die flinke registrasie van gr. 1’s en gr. 8’s is die eenvoudigste manier om Afrikaanse skole Afrikaans te hou en gehalteonderwys daardeur vir jou kind te verseker.

15 Junie  is D-dag, ouers moet gereed staan!

Lees meer: https://skole.co.za/gauteng-toelatings-2024/


inskrywings