deur Maryke Bellingan
Vakspesialis: SOS
In ‘n wêreld wat voortdurend verander, is die onderrig van Wiskunde van kardinale belang om ons kinders voor te berei vir ‘n snelveranderde toekoms. Met hierdie doel voor oë het ons ‘n innoverende gids genaamd “Verrykte Wiskunde” geskep. Hierdie gids, geïnspireer deur ons besoek aan Singapoer in 2023, integreer die beste praktyke van Singapoer se wiskunde-onderrig met internasionale Wiskundige onderrigmetodes om ‘n omvattende opleidingsprogram vir onderwysers te bied.
Pasgemaakte opleidingsprogram
Die opleidingsprogram bestaan uit vyf gestruktureerde modules, elkeen ontwerp om ‘n spesifieke aspek van wiskunde-onderrig aan te spreek en onderwysers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om die uitkomste van die module te bereik. ‘n Module bestaan uit vier verskillende werkswinkels wat elkeen tot ‘n uur beperk word. Die module kan in een middag aangebied word. Werkswinkels word deur hulpbronne aangevul.
Praktiese toepassing
Na afloop van die werkswinkels, implementeer onderwysers die nuwe praktyke in hul klaskamers (vir ‘n tydperk wat deur die skool gespesifiseer word). Tydens hierdie tydperk word onderwysers aangemoedig om beste praktyke intern met mekaar te deel. Om gesprekke tussen onderwysers aan te moedig en te fasiliteer, word twee Meesterbrein-gesprekke deur die SOS gereël. Hierdie gesprekke bied refleksiegeleentheid en geleentheid vir onderwysers om kollektief oor beste praktyke te besin, op grond van hul eie ervarings. Na afloop van die Meesterbrein-gesprekke, word daar van onderwysers verwag om ‘n taak uit te voer (soos ʼn ouerinligtingsaand, formulering en implementering van ʼn beleid, voltooiing van ‘n SOS ‘opdrag’, implementering van praktyke tydens beplanning en onderrig). Laastens word die impak van die opleiding deur die SOS gemeet. Die SOS voorsien die skool van ‘n verslag wat die impak aandui en voorstelle vir verdere implementering maak.
Wat behels elke module?
Die vyf modules is:
- hoe om te dink oor Singapoer-Wiskunde,
- integreer Singapoer-Wiskunde in die klaskamer,
- probleemoplossing vir die Singapoer-Wiskunde klaskamer,
- voer die Stryd teen Wiskunde-angs en
- benader Wiskunde op ‘n geïntegreerde wyse.
Hoe om te dink oor Singapoer-Wiskunde
Die eerste module stel onderwysers bloot aan die fundamentele beginsels van Singapoer-Wiskunde. Dit fokus op doelgerigte teoretiese begronding van Singapoer-Wiskunde. Die opleiding beklemtoon die belangrikheid van taal en hoe om taal reg te gebruik in die vak. Praktiese riglyne oor assessering en differensiasie sodat ‘n leerder se ware potensiaal ontgin en weerspieël kan word. Innoverende praktyke soos Gesprekslees en die Omgekeerde klaskamer wat onderwysers leer hoe om wiskundige konsepte op ‘n duidelike en verstaanbare manier oor te dra. Onderwysers sal die vermoë hê om ‘n beleid vir Verrykte Wiskunde te kan ontwikkel en aandui hoe praktiese uitvoer in beplanning ingesluit kan word.
Integreer Singapoer-Wiskunde in die klaskamer
Module twee fokus op die kennis van feite, prosedures en konsepte wat kernbeginsels tot Singapoer-Wiskunde is. Die hiërargiese ontwikkeling in die vak wat ‘n direkte impak op jou onderrigmetodes het en ook die simboliese en nie-simboliese kennis. Met hierdie module sal jy wegstap met kennis van praktiese metodes om die integrasie effektief toe te pas. Onderwysers sal bemagtig word met werkkaarte en take vir die leerders.
Probleemoplossing vir die Singapoer-Wiskunde klaskamer
Kritiese en kreatiewe denke vorm die basis van die module oor probleemoplossing vir die Singapoer-Wiskunde klaskamer.In hierdie module leer onderwysers hoe om begrippe soos effektiwiteit, patroonherkenning, gelyktydige uitvoering van stappe, die opbreek van probleme in eenvoudig stappe , abstraksie en beplanning te onderrig. Dié module is prakties georiënteer. Deur deelname, ontdek onderwysers nuwe benaderings om sortering en klassifisering, vergelykings, tangramme/aansigte, simmetrie, patroonherkenning, logiese beredenering en nog meer aan te bied. Onderwysers word uitgedaag om nuut aangeleerde beginsels in hul klasse te implementeer en daarna hul ervaringe met ander onderwysers te deel.
Voer die stryd teen Wiskunde-angs
Om die stryd te voer teen Wiskunde-angs is ‘n lywige taak. Wiskunde-angs is ‘n gevoel van spanning, bekommernis, of vrees wat mense ervaar wanneer hulle wiskundige take moet uitvoer. Dit kan ‘n negatiewe invloed hê op iemand se prestasie en houding teenoor Wiskunde. Hierdie angs kan ontstaan as gevolg van vorige negatiewe ervarings met Wiskunde, ‘n gebrek aan selfvertroue in wiskundevaardighede, of druk om goed te presteer. In hierdie module spreek ons neurowetenskappe, skermtyd en ingesteldheid aan. ‘n Organisasiekultuur van ouergesprekke is een van die uitsette wat verwag kan word van die module.
Benader Wiskunde op ‘n geïntegreerde wyse
Om Wiskunde op ‘n geïntegreerde wyse te benader, beteken om Wiskunde nie as ‘n geïsoleerde vak te onderrig nie, maar om dit eerder met ander vakke en lewenservaringe te verbind. Hierdie benadering help leerders om te sien hoe wiskunde in die werklike lewe toegepas kan word en hoe dit relevant is in verskeie kontekste. Projekgebaseerde leer is ‘n onderrigmetode waar leerders kennis en vaardighede aanleer deur aktief betrokke te raak in projekte wat gebaseer is op werklike probleme en uitdagings. Wanneer Wiskunde op ‘n geïntegreerde wyse met projekgebaseerde leer benader word, beteken dit dat wiskundige konsepte en vaardighede binne die konteks van ‘n projek geleer en toegepas word, wat dikwels vakke oorvleuel en multidissiplinêre leer bevorder.
Ons nooi alle Wiskunde-onderwysers uit om deel te word van hierdie opwindende nuwe benadering tot Wiskunde-onderrig. Saam kan ons die toekoms van ons kinders vorm en hulle toerus met die vaardighede en kennis wat hulle nodig het om suksesvol te wees in ‘n komplekse en dinamiese wêreld.
Vir meer inligting, pryse en beskikbare datums, kontak ons gerus: [email protected]