deur Sarina Prinsloo
Dis snaaks hoe mense altyd dink jy gaan kultuur kry in ’n museum of in ou boeke agter glas. As jy egter mooi daaroor dink, begin kultuur nie by ’n klipplaat of ’n standbeeld nie. Dit begin waar kinders leer. In ’n klaskamer. Op ’n stoeltjie met ’n potlood of boek in die hand. Dís waar die storie begin.
’n Skool is nie net ’n plek waar jy vakke aanleer nie – dis waar jy leer hoe om jouself in die wêreld te handhaaf. Hoe om te groet. Hoe om te luister. Hoe om vrae te vra. Dis waar ’n kind leer wat reg en verkeerd is, waar hulle hul eerste rympie opsê en besef: hierdie taal beteken iets. En daarmee saam leer hulle hoe om te dink, om ander te respekteer, om hul plek in ’n groter gemeenskap te verstaan en later vol te staan.
Dís kultuur.
Nie ’n losstaande vak met ’n eksamen nie, maar die ongeskrewe goed wat tussenin gebeur. In die manier waarop jy iemand aanspreek, hoe jy opstaan vir ’n ander, hoe jy vier, rou, droom en saamwerk. Kultuur is die gom tussen alles wat ons leer, en skole is die plek waar daardie gom gemeng word.
En as ons wil hê dat ons kultuur – ons taal, ons waardes, ons manier van menswees – moet voortleef, dan begin dit nie by monumente nie. Dit begin by onderwys. In die klas. By ons kinders.
Kultuur is lewendig
Ek hoor mense dikwels sê: “Ag, dis net ou goed daai, wie gee nog om?” Ek gee om. Jy gee om. En jy’t waarskynlik al beleef hoe lekker dit is as ’n kind met trots sê: “Ek is Afrikaans.” Dis nie net oor die taal nie – dis oor wie jy is, waar jy inpas, wat jy verstaan sonder om dit te verduidelik.
Dit is juis waar skole ’n massiewe rol speel. As ’n skool Afrikaans as moedertaal aanbied, gee dit nie net taalvaardigheid nie. Dit bou identiteit. Selfvertroue. ’n Anker.
Dis waar ’n kind leer dat “voortreflik” nie net ’n woord op ’n rapport is nie, maar iets wat binne jou is. Wat jy uitdra. Wat jy leef.
Moet nooit die krag van ’n goeie skool onderskat nie
Dis maklik om ’n skool te sien as net nog ’n gebou in die dorp of in jou voorstad. Maar kyk mooi: dis die plek waar ’n gemeenskap se hart klop. As daardie skool sterk is, met rotsvaste waardes, tradisie en ’n visie, dan sien jy dit in die kinders, in die ouers, in die hele buurt.
Skole hou nie net kinders besig nie. Hulle vorm hulle menswees. En as daardie vorming gebeur in ’n konteks waar kultuur gerespekteer en oorgedra word, dan bou jy nie net slim koppe nie, jy bou sterk harte.
Moderne onderrig én eie kultuur? Ja, jy kan al twee hê
Die wêreld verander vinnig en ons moet aanpas. Aanpas beteken egter nie dat ons moet afsien van wie en wat ons is nie. Jy kan tegnologie gebruik, aanlyn leer, moderne kurrikulums volg, terwyl jy steeds jou eie taal, kultuur en waardes vier.
Platforms soos Wolkskool wys dit elke dag. Dis Afrikaans. Dis relevant. Dis 2025 én trots plaaslik. Dis nie of-of nie. Dis én-én. Dis waar jy wys dat jy jou storie ken, maar ook weet hoe om dit digitaal te vertel.
Skole dra kultuur oor. Punt.
As ons dit nie in skole doen nie, waar dan? Dis nie net die werk van ouers of kerke of kultuurorganisasies nie. Dis ook die werk van elke graad R-juffrou wat kinders leer om maatjies met respek te hanteer, en die van elke hoërskoolonderwyser wat ’n debat begin oor ’n moeilike omgewingskwessie. Van elke skoolhoof wat sê: “Ons skool staan vir iets.”
Kultuur leef nie net in sang en dans nie. Dit leef in gewoontes. In waardes. In taal. In hoe ons leer. En die plek waar daardie leer begin, is by die skool.
So, volgende keer as iemand vra: “Hoe hou ons ons kultuur lewendig?”, dan’s die antwoord eenvoudig: Ons begin in die klas.