Blog

Van papier tot pixels – Geletterdheid in ’n digitale era

deur Melanie Kroukamp

Onderwysspesialis: Robotika/Kodering en KI

Elke jaar op 8 September herinner Internasionale Geletterheidsdag ons dat lees die sleutel is wat ál die ander deure van leer oopsluit.

In Suid-Afrika is daardie sleutel egter vir miljoene kinders verlore: Die PIRLS-verslag van 2021 wys dat net 19% van Graad 4-leerders kan lees vir betekenis in enige taal. Dít is ’n nasionale krisis, want sonder dié sleutel bly die deure van wiskunde, wetenskap en elke ander vak eenvoudig gesluit.

Geletterdheid het ook verander. Dit gaan nie meer net oor boeke en penne nie, maar oor digitale vaardighede soos om inligting aanlyn te soek, dit te evalueer en eties te gebruik. ’n Leerder wat nie kan onderskei tussen betroubare en vals bronne nie, kan maklik mislei word. Daarom praat ons vandag van ’n “leesboom”: die wortels lê in tradisionele lees en moedertaalonderrig, maar die takke reik uit na visuele en digitale geletterdheid.

Die SOS beklemtoon dat ons die balans moet kry: boeke en stories bly die fondament, maar tegnologie is ’n kragtige hulpmiddel wat leer kan verryk. Projekte soos die Wolkskool, verpersoonlikte leer en die Omgekeerde Klaskamer wys hoe kinders voorbereid kan klas toe kom en hoëvlak-denkvaardighede onder toesig inoefen.

En natuurlik, ons as onderwysers en ouers bly die ware gids. KI kan verduidelik, voorlees en selfs vrae genereer, maar dis ons wat kinders leer om die teks te bevraagteken, vrae te vra en dieper te dink. Want soos die SOS in die Leesgids beklemtoon: lees is nie net klanke en letters nie – dit is ’n aktiewe, bewuste proses wat geheue, denke en begrip saambring.

So, wat wens ek vir ouers én onderwysers in hierdie Geletterdheidsweek toe? Dat julle elke dag ’n nuwe bladsy saam met ’n kind kan omslaan – met oop harte, oop koppe en oop hande. Dat ouers vanaand weer die storieboek uithaal en ’n kind se verbeelding aansteek, en dat onderwysers môre die moed het om selfs ’n digitale hulpmiddel saam met hulle klas te toets. Dat ons almal nie bang is vir die nuwe nie, maar dit ook nie blindelings vertrou nie.

En dat ons onthou: ’n boek bly ’n skatkis, ’n ouer se stem bly ’n veilige toevlug, en ’n onderwyser bly die hartklop van die klas – maar tegnologie kan die vensters wyd oopmaak.