Blog

Vroeë jare bepaal kinders se toekoms

vroeëkinderontwikkeling

deur Marietjie Havenga

Vroeëkinderontwikkelingspesialis

 

Die jongste Thrive by Five-verslag herinner Suid-Afrika opnuut dat die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe die fondasie lê vir leer, ontwikkeling en uiteindelike lewensukses. Wanneer ons in vroeëkinderontwikkeling belê, bou ons nie net sterker leerders nie, maar ook sterker gesinne, gemeenskappe en ’n sterker samelewing.

Kernbevindinge uit die verslag:

Die verslag toon dat kinders se ontwikkeling in drie sleutelareas gemeet is: Vroeë leer, sosiaal-emosionele funksionering, en fisiese groei. Die resultate is as volg:

  • Slegs 42% van kinders in kleuterskole ontwikkel volgens ouderdomsstandaarde.
  • 7% toon tekens van beperkte groei weens wanvoeding.
  • 56% is op standaard vir emosionele gereedheid.
  • 63% toon gesonde sosiale verhoudings met maats en volwassenes.
  • Skokkend genoeg is 82% van kinders in armer gemeenskappe nie in staat om basiese take uit te voer wat hul ouderdom vereis nie.

 

Hierdie syfers wys hoe groot die gaping tussen kinders se potensiaal en hul werklikheid nog is.

 

Verskille tussen gemeenskappe en geslagte

Die verslag beklemtoon dat kinders in meer gegoede omgewings aansienlik beter vaar as dié in armer gebiede. Daar is ook duidelike geslagsverskille: dogters presteer oor die algemeen beter as seuns, behalwe in grootmotoriese vaardighede.

Dit beteken egter nie dat seuns “agter” is nie – hulle ontwikkel bloot teen ’n ander tempo en benodig meer geleenthede vir fisiese aktiwiteit en spel. Dogters toon vinniger ontwikkeling in uitvoerende funksies soos beplanning en konsentrasie – ’n verskil wat direk in die verslag se uitkomste weerspieël word.

 

Drie pilare van gesonde ontwikkeling

Uit die verslag blyk drie kernaspekte wat kinders se leer en groei ondersteun:

  • Moedertaal as sleutel tot leer: Kinders wat in hul moedertaal leer, ontwikkel vinniger taal- én denkvaardighede. Dit lê die grondslag vir latere leesbegrip en wiskundige redenasie.
  • ’n Geborge ouerhuis: Emosionele veiligheid en betrokkenheid van ouers of versorgers het ’n direkte impak op leer. Gesonde dieet, goeie slaappatrone en die aktiewe betrokkenheid van beide ouers, speel ’n kritieke rol.
  • Speel as leer: Speel is nie net ontspanning nie, maar die natuurlike manier waarop kinders leer. Bou, teken, sing, stories vertel en fisiese spel vorm die boublokke van formele lees- en wiskundige vaardighede.

’n Oproep tot aksie

Die verslag wys dat ware verandering moontlik is as ons doelgerig belê in strategiese areas van vroeëkinderontwikkeling. Dit sluit in: volhoubare befondsing, die bemagtiging van opvoeders en hoofde, die integrasie van gesondheid en leer, die bevordering van positiewe ouerskap, die versterking van grondslagfase-onderrig, en die versameling van meer data en navorsing om beter besluite te neem.

Elke jaar wat verlore gaan in ’n kind se vroeë ontwikkeling, is ’n kans wat ons nooit weer kan terugkry nie. Hoe vroeër ons leemtes raaksien en regmaak, hoe sterker bou ons aan die toekoms.