deur Marietjie Havenga
Vroeëkinderontwikkelingspesialis
Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)
In vandag se digitale wêreld is skerms deel van kinders se daaglikse lewe – selfs van ’n baie jong ouderdom af. Vir onderwysers, versorgers en ouers van kinders tussen 0–9 jaar is die groot vraag nie óf kinders skerms moet gebruik nie, maar hóé en hoeveel.
Hier is praktiese riglyne oor aanvaarbare skermtyd, die effektiewe gebruik daarvan, asook die voordele en risiko’s, sodat daar met groter bewustheid en kundigheid na skermgebruik by kinders gekyk kan word.
Aanvaarbare skermtyd per ouderdom
Internasionale riglyne (soos dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie en pediatriese verenigings) stel voor dat baba’s tussen 0-2 jaar geen skermtyd moet kry nie, behalwe video-oproepe met familie wat ver bly. Die navorsing toon dat babas en peuters se breine
vinnig ontwikkel deur direkte, tweerigting-interaksie met mense en hul omgewing, nie deur passiewe skermblootstelling nie. Volgens die World Health Organization (WHO) en die American Academy of Pediatrics (AAP) leer kinders onder 2 jaar die beste deur aanraking,
beweging, klank en gesigsuitdrukkings.
Studies wys dat jong kinders sukkel om betekenisvolle leer vanaf skerms oor te dra na die werklike wêreld (bekend as die “video-tekort-effek”). Dit beteken dat selfs opvoedkundige programme min werklike leerwaarde het op hierdie ouderdom.
Oormatige skermblootstelling in hierdie fase kan taalontwikkeling vertraag (veral as dit direkte menslike interaksie vervang), aandag en selfregulering beïnvloed en minder geleenthede bied vir kritieke motoriese en sensoriese ontwikkeling
Video-oproepe word wel toegelaat omdat dit regstreekse sosiale interaksie behels – iets wat wel ontwikkeling ondersteun.
Peuters en kleuters tussen die ouderdomsgroep van 2-5 jaar kan wel uit kwaliteit-inhoud leer, maar slegs indien dit beperk, doelgerig en interaktief is. Die American Academy of Pediatrics (AAP) beveel aan dat skermtyd tot ongeveer een uur per dag beperk word om te verseker dat dit nie ander kritieke ontwikkelingsaktiwiteite soos speel, taalontwikkeling, slaap en fisiese beweging vervang nie.
“Saamkyk” speel ’n sleutelrol in leer. Studies wys dat kinders beter begrip ontwikkel wanneer ’n volwassene saam kyk en verduidelik wat gebeur, vrae vra en nuwe woordeskat bekendstel.
Teen die ouderdom van 6-9 het kinders beter ontwikkelde kognitiewe, taal- en selfreguleringsvaardighede, wat beteken hulle kan meer betekenisvol met digitale inhoud omgaan. Daar moet nie net op tyd gefokus moet word nie, maar veral op die kwaliteit van inhoud en die balans met ’n gesonde leefstyl wat voldoende slaap, fisiese aktiwiteit, sosiale interaksie (met maats en familie), akademiese betrokkenheid en kreatiewe spel insluit.
Hoe om skerms effektief aan te wend
Skerms kan as ‘n hulpmiddel dien, mits dit doelbewus aangewend word. Hier is ’n paar riglyne wat ‘n mens kan gebruik om positiewe resultate te kry:
1. Kies kwaliteitinhoud
Dit sluit opvoedkundige programme en toepassings in wat ouderdomsgeskik en verkieslik advertensievry is. Goeie digitale inhoud behoort kinders se ontwikkeling te ondersteun deur te fokus op vaardighede soos taalontwikkeling, probleemoplossing en kreatiwiteit.
2. Kyk saam en praat saam
Wanneer volwassenes saam met kinders kyk en vrae stel soos: “Wat dink jy gaan volgende gebeur?”, help dit kinders om beter te verstaan wat hulle sien en daaroor te dink. Hierdie interaksie bevorder nie net begrip nie, maar ook taalontwikkeling en refleksie.
3. Stel duidelike grense
Dit help om ’n gesonde roetine te vestig, soos om skerms te vermy voor slaaptyd en om dit nie tydens etes toe te laat nie. Sulke grense ondersteun beter slaap, bevorder gesinsinteraksie en help kinders om balans te leer.
4. Gebruik skerms as ’n hulpmiddel, nie ’n oppasser nie
Gebruik skerms as ’n hulpmiddel en nie as ’n plaasvervanger vir betrokkenheid nie. Alhoewel dit soms gerieflik is, moet skerms nie die primêre manier wees om kinders besig te hou nie. Kinders het steeds aktiewe spel, menslike interaksie en aandag van volwassenes nodig vir gesonde ontwikkeling.
5. Moedig aktiewe eerder as passiewe gebruik aan
Interaktiewe speletjies en toepassings wat kinders laat dink, reageer en deelneem, is baie meer waardevol as om bloot video’s te kyk. Aktiewe betrokkenheid ondersteun leer, probleemoplossing en konsentrasie op ’n meer betekenisvolle manier.
Nadele en risiko’s
Oormatige of onbegeleide skermgebruik kan ’n negatiewe impak op kinders se ontwikkeling hê. Dit word onder andere gekoppel aan slaapprobleme, veral wanneer skerms voor slaaptyd gebruik word, asook ’n afname in fisiese aktiwiteit. By jong kinders kan dit taal- en sosiale ontwikkeling benadeel, aangesien skermtyd dikwels direkte menslike interaksie vervang. Verder word dit verbind met gedragsuitdagings en ’n korter aandagspan. Fisiese klagtes soos oogspanning en hoofpyn kan ook voorkom, en kinders kan maklik afhanklik raak van skerms as hul hoofbron van vermaak.
Praktiese wenke vir ouers en opvoeders
Wees doelbewus en konsekwent in hoe skerms bestuur word. Kinders leer deur nabootsing, daarom is dit belangrik om self ’n goeie rolmodel te wees. Skep doelbewus “skermvrye” tye of ruimtes in die huis of klas om balans te bevorder. Praat openlik met kinders oor wat hulle kyk en ervaar, sodat hulle dit beter kan verstaan en verwerk. Laastens is dit belangrik om inhoud te monitor en, waar nodig, ouerbeheer-instellings te gebruik om ’n veilige digitale omgewing te verseker.
Bewuste skermgebruik begin by ons
Skerms is ’n realiteit van die moderne wêreld, maar dit is ons rol as volwassenes om kinders te leer hoe om dit verantwoordelik en gebalanseerd te gebruik. Met die regte leiding kan tegnologie ’n hulpmiddel wees wat leer en ontwikkeling ondersteun, maar dit sal, en moet nooit, die waarde van direkte menslike interaksie kan vervang nie.