Blog

Onderwysers bepaal Wiskunde-sukses, nie geld nie

2026-04-21

Volgens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se opname van skole met die meeste Wiskunde-onderskeidings, relatief tot hul kandidaatgetalle, het Soqhayisa oor drie jaar besonder sterk presteer: tweede in 2023, eerste in 2024 en 25ste in 2025. Oor dié tydperk het die skool gemiddeld 38% Wiskunde-onderskeidings behaal, met sowat 33 onderskeidings per jaar. Teenoor ’n nasionale gemiddeld van 3,1% is dit ’n buitengewone betekenisvolle prestasie.

Soqhayisa Senior Secondary School in Motherwell, ‘n woonbuurt in Port Elizabeth, bevestig dat akademiese uitnemendheid nie bloot gemeet word aan status of groot beleggings in sport nie, maar veral gevorm word deur toegewyde onderwysers, hoë verwagtinge en ’n skoolkultuur waarin leer ernstig opgeneem word. Terwyl sport ’n waardevolle deel van skoolvorming bly, wys Soqhayisa hoe belangrik dit is dat akademie, en veral vakke soos Wiskunde, as ewe belangrik geag word. ’n Goeie balans tussen sport en akademie bly noodsaaklik vir volhoubare leerlingprestasies.

Die SOS se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) het’n besoek aan Soqhayisa afgelê om die skool se prestasie te vier, maar veral om te gaan leer wat agter hierdie uitsonderlike resultate lê. Wat daar gevind is, was nie ’n geheime formule nie, maar iets wat in baie skole al te maklik onderskat word: die bepalende rol van onderwysers.

“Wat my die meeste getref het, is dat jy oral die hand van toegewyde onderwysers sien. By Soqhayisa is dit duidelik: onderwysers maak die verskil,” sê Maryke Bellingan, onderwysspesialis vir Wiskunde by die SOS.

Die skool se sukses berus nie op een enkele faktor nie, maar op ’n volgehoue akademiese kultuur. Wiskundeklasse word gedifferensieer volgens vorige prestasie, ekstra klasse word daagliks aangebied, vakansieprogramme vir Wiskunde en Fisiese Wetenskappe is verpligtend, en leerders wat sukkel, word doelbewus ondersteun. Senior leerders help jonger leerders. Dit alles dra by tot akademiese prestasie en vorm deel van die hele skool se kultuur.

“By Soqhayisa is akademie die hart van die skool se kultuur,” sê Bellingan. “Daar is ’n gesonde drang om beter te doen, en die onderwysers dryf dit met ongelooflike toewyding.”

Hierdie benadering is juis belangrik in ’n tyd waarin skole toenemend moet waak teen ’n wanbalans tussen sport en akademie. In ’n vroeëre mediaverklaring van die SOS oor skolesport is beklemtoon dat sport ’n waardevolle deel van skoolvorming is, maar dat dit nie ten koste van akademie of die kind se breër ontwikkeling behoort te wees nie. “’n Goeie balans tussen sport en akademie is noodsaaklik as skole werklik die volle potensiaal van leerders wil ontwikkel,” meen Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS.

Soqhayisa is ’n sterk voorbeeld van só ’n balans. Wiskunde word hoog geag en akademiese prestasie geniet prioriteite. Leerders word aangemoedig en ondersteun om uitdagende vakke aan te pak. Dit is besonder belangrik in ’n land waar deelname aan Wiskunde te laag bly en te veel leerders reeds vroeg die vak opgee.

Soqhayisa se groei in Wiskunde-deelname is net so betekenisvol soos sy uitslae. Waar die nasionale deelnamekoers in 2025 op 35% gestaan het, het die persentasie leerders by Soqhayisa wat Wiskunde neem van 21% in 2023 tot 46% in 2025 gestyg.

“Dit is een van die sterkste boodskappe van die besoek,” sê Bellingan. “Hier is ’n skool wat nie net ’n klein groepie uitblinkers dra nie, maar doelbewus meer kinders in Wiskunde intrek en ondersteun.”

Hierdie beginsel word ook by ander top skole gesien. Hoër Meisieskool Bloemhof en Paul Roos Gimnasium is eweneens  goeie voorbeelde van ’n skole waar Wiskunde doelbewus bevorder word. Volgens die SOS se verslag oor die 2025-nasionale matriekuitslae was Bloemhof onder die top 10 Afrikaanse skole met die hoogste Wiskunde prestasie én  persentasie. Hoewel skole se omstandighede verskil, bly die beginsel dieselfde: wanneer Wiskunde doelbewus bevorder word en wanneer leerders aangemoedig word om die vak te neem, volg daar sterk resultate.

Vir die SOS is die boodskap duidelik: Suid-Afrika het skole nodig waar sport en akademie nie teenoor mekaar afgespeel word nie, maar waar albei met erns benader word. Sport moet bou aan karakter, dissipline en samehorigheid. Akademie moet terselfdertyd doelbewus versterk word, veral in kernvakke soos Wiskunde wat deure na verdere studie en beroepe oopmaak.

“Soqhayisa bewys wat moontlik is wanneer onderwysers volhard, wanneer akademie die nodige status geniet, en wanneer leerders geleer word dat hul omstandighede nie hul toekoms hoef te bepaal nie,” meen Fourie.

Foto van links na regs:
Maryke Bellingan (SOS), Zolani Sigali (Departementshoof: Wiskunde), Songezo Macanda (Adjunkhoof), Nkululo Mtyingrane (Wiskunde onderwyser) en Hildegard Brummer (SOS)