Blog

Uitnemende Afrikaanse skole as grondslag vir volhoubare Afrikaanse gemeenskappe

Leon Fourie, Uitvoerende hoof van SOS.

Betekenis van Afrikaanse skole vir ons gemeenskap

Afrikaanse skole is vir ons veel meer as net plekke waar kennisoordrag plaasvind. Dit is plekke waar ons kinders gevorm word en waardes aanleer. Dit is skooltuistes wat geslagte met mekaar verbind. Afrikaanse skole is ’n verlengstuk van die huis: ’n plek waar ons kinders veilig en geborge moet voel en waar ons gemeenskap bymekaarkom.

Antwoord vir volhoubare Afrikaanse onderwys

Die volhoubaarheid van Afrikaanse onderwys hang af van die mate waarin ons die selfstandigheid en outonomie van ons skole kan bevorder, die professionele ruimte van onderwysers kan vergroot en die opvoedkundige gehalte van ons instellings voortdurend kan verbeter. Dit hang ook af van ons vermoë om skole meer kostedoeltreffend te laat funksioneer en, waarskynlik die belangrikste van alles, die historiese etos en karakter van ons skole te behou. Openbare Afrikaanse skole moet ondersteun en sterk gehou word, terwyl gemeenskappe terselfdertyd in staat gestel moet word om self uitnemende skole te vestig, waar dit nodig is.

Die SOS se rol

Die bestaansdoel van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) is juis om ’n antwoord op die huidige onderwyskrisis te bied. Die SOS is ’n gemeenskapsnetwerk van uitnemende, Christelike Afrikaanse skole wat aan ’n Afrikaanse skoolstelsel buite staatverval bou. Die doel hiervan is om die volhoubare voortbestaan van Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te help verseker. ’n Omvattende ekosisteem rondom ons skole is hiervoor nodig. Daarom het die Solidariteit Beweging ’n volledige onderwysaanbod ontwikkel wat juis hierdie doel ondersteun.

Die SOS werk om die selfstandigheid en besluitnemingsmag van skole te bevorder en hulle teen onregmatige staatsinmenging te beskerm. Ons gebruik stelsels en tegnologie om die volhoubaarheid en lewensvatbaarheid van skole te verbeter en hulle in staat te stel om meer kostedoeltreffend te funksioneer. Ons werk ook om die opvoedkundige standaard van ons skole deur voortgesette navorsing en die toepassing van beste onderwyspraktyke, te verhoog. Hiervoor bou ons ’n netwerk van skole en onderwyskundigheid wat voortdurend beste praktyke ondersoek, met mekaar deel en in die klaskamer toepas.

Ons doen dit alles om vir ons kinders ’n toekoms te skep waarin hulle veilig, geborge, gebalanseerd en leergierig kan grootword. Hulle moet kultureel verbonde én internasionaal mededingend wees en bowenal vanuit ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing toegerus word. Ons help om openbare Afrikaanse skole te beskerm en ondersteun gemeenskappe ook om, deur die Gimnasium-skolekonsessie, self onafhanklike skole te vestig waar dit nodig is.

Die SOS se aanbod aan skole

Die SOS tree as vennoot van Afrikaanse skole op deur hulpbronne, vakgerigte kursusse en ondersteuning aan onderwysers te bied. Ons voorsien ook deurlopende professionele opleidingsgeleenthede, leerderassesserings, kurrikuluminhoud, skoolontwikkelingsplanne, data-ontleding en ’n sertifiseringsproses. Daarbenewens ontwikkel ons Die Wolkskool en ander stelsels om die leerproses te ondersteun en te vergemaklik. Deur skole en onderwysers op ’n gestruktureerde wyse met mekaar te verbind, help ons om die opvoedkundige standaard van al die skole binne die netwerk voortdurend te verhoog.

Die geskiedenis en die toekoms

Die toekoms van uitnemende Afrikaanse skole is vir ons ononderhandelbaar. Hierdie skole is die hartklop van ons gemeenskap en ’n voorwaarde vir `n volhoubare voortbestaan. Ons moet daarom ons skole beskerm en ondersteun, en nuwe skole bou waar dit nodig is.

Daar is vandag verskeie ooreenkomste met die krisistye en sentralisering van staatsmag gedurende die 19de en 20ste eeu. Ons geskiedenis wys dat ons voorgeslagte erns met die opvoeding van hulle kinders gemaak het. Christelike opvoeding was vir hulle ’n prioriteit, gesonde waardes en dissipline is in skole gevestig, en skole het ’n wesenlike deel van die gemeenskap se kulturele huishouding gevorm.

Ons Afrikaanse skole tel steeds onder van die bestes ter wêreld. Ons beskik oor sterk, georganiseerde ondersteuningsnetwerke en instellings wat ons skole bystaan. Ons ontwikkel ook voortdurend vernuwende oplossings wat ’n volhoubare Afrikaanse onderwysbedeling moontlik maak.

Uitnemende Afrikaanse skole is dus nie bloot ’n onderwysideaal nie, maar die grondslag waarop volhoubare Afrikaanse gemeenskappe gebou word. Deur ons skole te beskerm, hulle selfstandigheid te versterk, onderwysers professioneel te ondersteun en voortdurend in gehalte en vernuwing te belê, neem ons verantwoordelikheid vir ons kinders se toekoms. Só verseker ons dat hulle in ’n veilige en geborge omgewing kan grootword, stewig in hulle taal, kultuur en Christelike waardes geanker, en terselfdetyd toegerus om internasionaal te kan meeding. Wanneer ons vandag saam aan sterk Afrikaanse skole bou, bou ons aan gemeenskappe wat met vertroue en hoop die toekoms kan ingaan.

Leon Fourie
Besturende direkteur
Solidariteit Skoleondersteuningsentrum