3 September 2026
Gr. 1 en Gr. 8 in 2027? Gautengse ouers het nog net tot 4 September. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) doen ’n dringende beroep op Gautengse ouers wat nog nie vir Graad 1- of Graad 8-plasing vir 2027 aansoek gedoen het nie, om so gou moontlik op die aanlyn platform, gdeadmissions.gov.za, te registreer.
Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se aanlyn toelatingsproses sluit môre om middernag. Ouers wat die sperdatum misloop, loop die gevaar dat hul kinders nie plek kry in hul skool van keuse nie en dalk eers volgende jaar geplaas word waar plek beskikbaar is.,

“Ons wil ouers baie sterk aanmoedig om betyds aansoek te doen. Indien jou kind in 2027 in Graad 1 of Graad 8 is en jy het nog nie aansoek gedoen nie, doen dit vandag. ’n Volledige en tydige aansoek gee ouers en skole die beste moontlike kans om die plasingsproses ordelik te laat verloop,” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by die SOS.
Die SOS moedig ouers aan om nie by ’n groot aantal skole aansoek te doen nie nie. Veelvuldige aansoeke bemoeilik skole se kapasiteitsbeplanning en kan die plasingsproses onnodig ingewikkeld maak.
Ouers wat reeds aanlyn aansoek gedoen het, moet ook seker maak dat hul ondersteunende dokumentasie volledig is en ingedien is: aanlyn, of by hul skool van keuse.
Ouers moet die volgende dokumente gereed te hê:
- bewys van woonadres;
- die ouer of voog se identiteits- of toepaslike immigrasiedokumente;
- die leerder se geboortesertifikaat of toepaslike identiteitsdokumente;
- ’n kliniekkaart of immunisasieverslag waar van toepassing vir Graad 1; en
- die nodige skoolrekords vir Graad 8.
Die SOS herinner ouers daaraan dat ’n aansoek nie dieselfde as ’n plasing is nie. Ouers moet steeds verdere kommunikasie van die GDO en hul voorkeurskool dophou en betyds op enige verdere versoeke reageer.
“Elke laat of onvolledige aansoek bemoeilik skole se beplanning vir 2027. Laat aansoeke kan selfs beteken dat kinders nie betyds geplaas word nie en die belangrike eerste weke van Gr. 1 of Gr. 8 misloop. Die tyd dat ’n leerder bloot aan die begin van die jaar by ’n skool kon opdaag en plasing verwag, is verby. Ons doen daarom ’n dringende beroep op ouers om hierdie laaste geleentheid te gebruik om by hul skool van keuse aansoek te doen en seker te maak hul ondersteunende dokumente is ingedien by die skool,” sê Buys.
Vir media navrae:
Melanie Buys | Hoof van Ontwikkeling