Blog

Onderwysers en geestesgesondheid in Suid-Afrika

deur Sarina Prinsloo

Kommunikasiespesialis: SOS

Meer as die helfte van Suid-Afrikaanse onderwysers oorweeg om die beroep te verlaat – nie weens salaris nie, maar oor uitputting, angs en ’n groeiende gevoel van moedeloosheid (Mail & Guardian, 2025). Ná jare van pandemiese ontwrigting, toenemende tegnologiese druk en eindelose administratiewe take, bevind baie opvoeders hulself in ’n geestesgesondheidskrisis. Die beroep wat vroeër as ’n roeping beskou is, voel vir baie nou soos ’n oorlewingswedloop.

Navorsing wys dat onderwysers al hoe meer onder druk verkeer: nie net in die klaskamer nie, maar ook in hul persoonlike lewe. Hulle dra die emosionele gewig van groot klasse, uitdagende leerdergedrag, en die verantwoordelikheid om te presteer in ’n stelsel wat dikwels min ondersteuning bied.

Die impak van COVID-19 en tegnologie

’n Landwye opname onder meer as ‘n duisend onderwysers het getoon dat baie opvoeders tydens en ná COVID-19 ernstige spanning en uitputting ervaar het (Mkwananzi & Mayaba, 2020). Hulle moes binne dae aanlyn onderrig aanbied, dikwels sonder opleiding of betroubare internet. Hierdie skielike verandering het baie onseker en oorweldig gelaat.

Tog het die pandemie ook iets belangrik uitgelig: onderwysers met hoër veerkragtigheid, dié wat gesonde hanteringstrategieë gebruik en ondersteuning soek, het beter daarin geslaag om hul emosionele balans te behou. Dit wys hoe noodsaaklik emosionele veerkragtigheid en ondersteuning tussen kollegas in onderwys geword het.

Navorsers het gevind dat laerskoolonderwysers in die Oos-Kaap spesifiek swaar gekry het tydens aanlyn onderrig. Min tegnologiese hulpbronne, beperkte opleiding en leerlinge wat nie wou deelneem nie, het spanning en frustrasie laat opvlam. Dit toon egter dat eenvoudige strategieë soos probleemoplossing, samewerking en realistiese selfverwagtinge wesenlik bydra tot beter hantering van uitdagings.

Verskillende skole, dieselfde spanning

Laerskoolonderwysers werk dikwels met groot klasse en jong kinders wat konstante aandag verg. Hulle dra verantwoordelikheid vir kinders se emosionele én akademiese ontwikkeling, dikwels sonder hulpbronne of die hulp van assistente.

Hoërskoolonderwysers ervaar weer ander druk: hulle moet tieners deur uitdagende jare lei, akademiese prestasie verseker en toenemende dissiplineprobleme bestuur. In sommige skole is geweld en wanrespek ’n daaglikse werklikheid (Mail & Guardian, 2025).

Hoewel hul konteks verskil, deel beide groepe dieselfde ervaring: oorwerk, uitbranding en ’n gebrek aan ondersteuning.

 

Vyf eenvoudige maniere om jou geestesgesondheid te beskerm

  1. Bou ’n ondersteuningsnetwerk: Gesels met kollegas en deel wat jy voel, ander verstaan dalk presies waardeur jy gaan.
  2. Stel gesonde grense: Laat skoolwerk waar dit hoort. Gun jouself tyd vir familie, rus en herstel.
  3. Pas self-sorg toe: Eet goed, slaap genoeg en beweeg daagliks. Klein gewoontes maak ‘n groot verskil.
  4. Bestuur stres aktief: Gebruik kort pouses, diep asemhaling of bewustheidsoefeninge om spanning te ontlont.
  5. Soek betyds hulp: As jy voel jy kan nie meer nie, praat met ’n professionele persoon. Hulp vra is nie swakheid nie, dis selfrespek.

Die geestesgesondheid van onderwysers is die hartklop van kwaliteitonderwys. Wanneer opvoeders oorlaai en emosioneel uitgeput is, ly nie net hulle nie – maar ook hul leerders en die hele skoolkultuur.

As land moet ons begin om onderwysers se welsyn net so ernstig te neem soos akademiese prestasie. Skole kan ruimtes van sorg en ondersteuning word, waar gesprekke oor geestesgesondheid normaal en aanvaarbaar is. Elke kollega wat luister, elke beleid wat druk verlig en elke daad van empatie maak saak.

Op hierdie Geestesgesondsheiddag herinner ons onsself daaraan:
As ons vir onderwysers sorg, sorg ons vir die toekoms van Suid-Afrika.

 

Bronnelys

Mkwananzi, S., & Mayaba, P. (2020). A national survey on the peritraumatic effects of the COVID-19 pandemic in South Africa: Prevalence and factors associated among primary and secondary school teachers [PDF]. SciELO. https://files.eric.ed.gov/fulltext/EJ1430069.pdf

Stein, D. J., et al. (2023). The resilience of South African school teachers in the time of COVID-19. International Journal of Environmental Research and Public Health, 20(4), Article 3462. https://doi.org/10.3390/ijerph20043462

Half of SA teachers want out because of violence, exhaustion. (2025, April 22). Mail & Guardian. https://mg.co.za/education/2025-04-22-half-of-sa-teachers-want-out-because-of-violence-exhaustion