Blog

Skooldissipline: Regering moet eers sý “huis” in orde kry

Dr. Danie Brink

Ons lees hierdie week ’n brief van ’n desperate skoolhoof van Hoërskool Vanderbijlpark. Die kort en die lank van sy brief is dat die skoolbestuur boedel oorgegee het weens leerders se swak gedrag.

Ons lees ook hoe leerders, ouers en onderwysers van Bekkersdal amptenare van die onderwysdepartement in hul kantore vasgekeer het. Die groep is ontsteld want daar is ’n nuwe skool aan hulle belowe.

Navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) verlede jaar onder meer as 600 onderwysers gedoen het, dui daarop dat die meeste onderwysers (63%) ’n gebrek aan klaskamerdissipline as hul grootste bron van spanning ervaar. 

Minister Naledi Pandor, minister van Hoër Onderwys en Opleiding, voer aan dat goeie dissipline by die huis begin. Die slegte nuus is egter dat minister Pandor se “huis” deur haar eie “kinders” verniel is toe studente meer as R800 miljoen se skade aan kampusse aangerig het tydens Fees Must Fall-betogings. Tot op hede is daar nog geen student vir hierdie kriminele dade vervolg nie. Minister Pando pas dus self nie toe wat sy nou so graag aan ouers wil predik nie. Ook in die Departement van Basiese Onderwys is dit standaard praktyk om plundering, brandstigting en onopvoedkundige praktyke deur beide leerders en SADOU-lede ongestraf te laat.

Minister Pandor en haar kollega minister Angie Motshega se versuim om dissipline in hul eie huise toe te pas, is direk verantwoordelik vir die penarie waarin ’n skool soos Hoërskool Vanderbijlpark homself bevind.

Straf is die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade. Daar is niks venynig aan straf nie, dis soos die lewe werk. Maar die ministers verkies om blaam te skuif eerder as om te straf. Soms blameer sy Apartheid en soms, soos in hierdie geval, ouers. Dis onaanvaarbaar en onopvoedkundig om wandade ongestraf te laat en sodoende opvoedkundiges soos dié van Hoërskool Vanderbijlpark so bloot te stel.

Daar is egter steeds goeie nuus vir ouers – Selfs mét bestaande bepalings en voorwaardes, daargestel deur ’n planlose regering wat gedurig blaam verskuif, is dit vir ons moontlik om ons kinders só op te voed dat hulle die beste kans het om suksesvolle volwassenes te word. Dis noodsaaklik dat ons nie die regering sal na-aap deur ’n eksterne lokus van kontrole te hê deur die verantwoordelikheid te verskuif nie. Dis belangrik dat ons kinders self verantwoordelikheid sal neem en altyd sal poog om alles binne hul vermoë te doen om dinge beter te maak – dus ’n interne lokus van kontrole. Die uitdaging is egter om self die goeie voorbeeld te stel en nie te doen wat minister Pandor doen nie. Ons kinders gaan maak soos ons maak, hulle gaan nie maak soos ons sê nie.

In sy boek “How Children Succeed”, noem Paul Tough agt kwaliteite of vaardighede wat verseker dat kinders in suksesvolle volwassenes opgroei, naamlik deursettingsvermoë, selfbeheer, uitgestelde bevrediging, lewenslus, dankbaarheid, sosiale intelligensie, optimisme en nuuskierigheid. Dit is ons “vreesaanjaende voorreg” as ouers om ons kinders voor te stel aan hierdie agt kwaliteite.

Dis verder baie belangrik dat ons sal onthou wat die definisie van opvoedkundige straf is – die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade. Wanneer ons hierdie definisie onthou sal ons minder in ons kinders se ore kerm, dreig en herhaal. Sal ons hulle liefdevol straf vir sulke verkeerde keuses en dade en sal ons opvoedkundiges bystaan wanneer hulle ons kinders by die skool straf.

Minister Pandor, vee eers voor jou eie deur. Straf diegene wat jou kampusse so verniel het. Dis die logiese gevolge van hulle verkeerde dade. Tot tyd en wyl jy dít doen, gaan die ouers van die ongehoorsame kinders van Hoërskool Vanderbijlpark maak soos jy maak, hulle gaan nie maak soos jy sê nie.Dr. Danie Brink is die uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Teken in op ons nuusbrief