Blog

Aanlyn registrasieproses vir 2020: ‘n Brief aan ouers

Geagte ouer

Die huidige formaat van Gauteng se aanlyn registrasieplatform vir skoolaansoeke, verplig ouers om eers die skool naaste aan hul woonadres as die skool van hul keuse aan te dui, ongeag watter skool hulle verkies. Dit is egter moontlik vir ouers om, op grond van hul huisadres, nog ’n skool binne hul voedingsgebied as skool van hul keuse aan te dui, nadat hulle die eerste opsie gekies wat die stelsel namens hulle genereer.

Volg die volgende stappe ten einde te verseker dat jou kind die beste kans moontlik het om by die skool van jul keuse plek te kry:

  1. Doen onmiddellik aansoek by www.gdeadmissions.gov.za  wanneer die aanlynplatform op 13 Mei om 08:00 die oggend open.
  2. Vul jou en jou kind se besonderhede volledig in en kies die skool wat die stelsel as eerste opsie vir jou aandui, al wil jy nie jou kind daar inskryf nie. (Die stelsel verplig ouers om hierdie opsie te aanvaar, voordat verdere keuses uitgeoefen kan word.)
  3. Jy sal daarna die opsie hê om nog ’n skool naby jou woonadres te kies. Die stelsel sal dan verskeie skole in jou voedingsarea aandui, waaruit jy kan kies. Keuses op grond van   woonadres binne ‘n skool se voedersone sal ’n WA1 waglysnommer ontvang.
  4. Nadat jy die skool van jou keuse op grond van woonadres aangedui het, sal jy die opsie hê om nog skole te kies. Keuses uitgeoefen op grond van sibbe, werkadres of 30km radius beteken egter dat jou kind op waglys twee, drie of vier van hierdie skole geplaas word. Jy sal ’n WA2, WA3 of WA4 nommer ontvang.
  5. Handig dieselfde dag nog die nodige dokumentasie, soos deur die departement vereis, by die skole in waar jy aansoek gedoen het. Indien jy nie jou kind wil inskryf by die eerste skool wat die stelsel jou verplig het om as eerste keuse aan te dui nie, moet nie jou dokumentasie by daardie skool inhandig nie. Handig slegs dokumentasie in by die skool/ skole waar jy jou kind wil plaas.

Dokumente wat ouers moet ingee by die skool van keuse waar jy aanlyn aansoek gedoen het:

  • Ouer se ID
  • Bewys van adres
  • Geboortesertifikaat van leerder
  • Immunisering sertifikaat ( vir Graad 1)
  • Laaste rapport en oorplasingsbrief (vir Graad 8)
  • Studiepermit (Buitelanders)
  • Bewys van broer/suster in skool (indien van toepassing)

6. Ouers moet onmiddelik reageer op die SMS-aanbod wat ouers vanaf 27 Augustus ontvang om jou kind se plasing te aanvaar – as jy nie reageer nie, plaas die departement jou kind by die skool naaste aan jou woonadres.

Indien jy probleme met die stelsel ondervind tydens die aansoekproses, stuur ’n e-pos aan [email protected] Sluit jou kind se naam en ouderdom in, asook ’n kort beskrywing van jou klagte. (Let wel, ons verwag hoë volumes e-posse vanaf ouers wanneer die platform aktief word en sal nie persoonlik op die klagtes kan reageer nie. Dit is egter wel belangrik dat die SOS weet van probleme wat ondervind word, om benadeling te bepaal wat moontlike regsaksie vereis. )

Die SOS het, in samewerking met AfriForum, ’n brief aan die Gautengse Departement van Onderwys gestuur, waarin ons eis dat die skool en leerder se taal van onderrig in ag geneem word tydens die aansoekproses en plasing van leerders aan Gautengse skole. Omdat die stelsel nie voorsiening maak vir taal van onderrig nie, beskou die Skoleondersteuningsentrum (SOS) die proses as ongeldig, aangesien ’n skool se taalbeleid steeds deur die Nasionale Onderwysdepartement se norme en standaarde erken word.

Groete

Die Skoleondersteuningsentum