Celeste Labuscagne
Wolkskooldosent
So, jy het die vorige skrywe gelees. Jy het besef dat uitbranding ʼn realiteit is. Nou ondervind jy soos iemand wat ʼn oor ʼn siekte ge-Google het dalk allerhande “simptome”, maar jy weet nie of dit werklikheid of jou verbeelding is nie. Wat nou gedoen? In hierdie gedeelte gaan ons bietjie dieper kyk na wat jou volgende stap is en indien jy nog nie by die punt van uitbranding is nie, wat jy moet doen om dit te voorkom.
Dit is baie belangrik om te besef dat uitbranding nie ʼn skielike episode gaan wees nie. Uitbranding gebeur geleidelik. Ons beleef almal dae wat ons oorweldig, moedeloos, vasgevang en energieloos laat. Veral tydens hierdie pandemie en gevolglike inperking het menige van ons al hierdie emosies ervaar. Die gevaarligte begin egter flikker wanneer jy elke dag dié negatiewe emosies ervaar. Dit is belangrik om te besef dat deurdruk nie in hierdie geval noodwendig ʼn moontlikheid is nie. Jy moet rustig raak, asemhaal en van rigting verander om jouself deur hierdie situasie te bestuur.
Wanneer ʼn persoon gekonfronteer word met uitbranding is daar ʼn drie-stap strategie wat gevolg kan word. In ʼn artikel deur Smith, Segal en Robinson (2020) op helpguide.org word hierdie proses beskryf as die “Three R” approach. Ons kyk nou kortliks wat hierdie benadering behels:
Herken (Recognize). Herken die simptome en tekens van uitbranding.
Omkeer (Reverse). Maak die skade wat aangerig is ongedaan deur die regte ondersteuning te kry en jou spanning (stres) te leer beheer.
Veerkragtigheid (Resilience). Bou jou verkragtigheid teenoor stres/emosionele druk weer op deur aandag en tyd aan jouself te bestee. Belê in (goeie ou) gesonde fisiese en emosionele welstand.
Die artikel lys ook ʼn paar baie behulpsame wenke wat jy kan toepas wanneer jy met uitbranding moet afreken. Dit is belangrik om te onthou dat wanneer jy met uitbranding moet saamleef, probleme vir jou onoorkombaar en jou lewe bleek en doelloos mag voorkom. Dit is dan juis nie die tyd om jouself van die samelewing af te sonder en daaraan te onttrek nie. Sosiale kontak is in hierdie geval die teenvoeter vir hierdie gevoelens wat jy ervaar. Onder hierdie omstandighede is dit belangrik om met kundige persone oor jou ervaring te praat. Sodanige persoon moet ʼn goeie luisteraar wees, veral ʼn luisteraar wat jou nie sal oordeel nie. Jy kan egter nie van sodanige persoon verwag om die snellers van jou stres te elimineer nie.
Wenk 1: Reik uit
In hierdie tyd sou dit wenslik wees om uit te reik na ʼn gesinslid en om meer sosiaal met jou kollegas by die werk te verkeer. Dit kan jou veral beskerm teen die uitbranding wat jy as gevolg van jou werksomstandighede mag ervaar. Dit is ook belangrik om in hierdie tyd kontak met negatiewe persone te minimaliseer of hul selfs heeltemal te vermy. Negatiewe mense kan in hierdie tyd jou gemoed nog verder die modder in trek. Jy kan ook oorweeg om selfs nuwe vriende te maak – wie nie waag nie, wen nie.
Wenk 2: Neem inventaris van jou prioriteite
Uitbranding is gewoonlik ʼn teken dat jy te veel hooi op jou vurk het. Probeer om jouself nie te oorlaai (of te laat oorlaai) met werk nie. Stel grense en maak seker dat jy en ander mense hierdie grense respekteer. Dit is ook belangrik dat jy tyd maak weg om weg te kom van oormatige tegnologiegebruik en van neerdrukkende jou werksomstandighede. Sit ʼn uur per dag opsy weg van alle sosiale media en jou selfoon. Jy moet ook seker maak dat jy genoeg slaap inkry, aangesien onvoldoende slaap tot ongewenste irrasionele denke mag lei.
Wenk 3: Maak oefening ʼn prioriteit
Dit is belangrik om elke dag ten minste 30 minute aan oefening te bestee. Dit sal jou aandag van jou negatiewe gedagtes aflei en jou dwing om op jou liggaamsfiksheid te konsentreer. Oorweeg dit ook om by ʼn stapgroep aan te sluit en stap oor naweke saam met die groep. Jy kan ook nog meer avontuurlustig wees deur vir jou ʼn bergfiets aan te skaf en by ʼn sosiale fietsrygroep aan te sluit. Dit mag jou aangenaam verras oor hoeveel voedsel dit vir jou siel kan wees! Jy kan in die natuur ry en na hartelus met groeplede gesels terwyl jy die natuur om jou geniet en waardeer.
Wenk 4: Eet gesond
ʼn Gesonde dieet is nie net voordelig vir jou lyf nie, maar ook vir jou gemoed. Bly weg van suiker en verfynde koolhidrate, aangesien hierdie tipe koolhidrate kan tot ʼn skielike val in jou bloedsuikervlakke lei. Dit is nie net liggaamlik katastrofies nie, maar jou gemoed sal ook hieronder ly. Eet so organies as moontlik en bly weg van preserveermiddels, ongesonde vette en te veel kaffeïen! Rook is ook nie ʼn oplossing vir ‘n negatiewe gemoedstoestand nie, aangesien nikotien ʼn stimulant is wat verhoogde angsvlakke tot gevolg mag hê. Alkohol moet ook met matigheid voor oë gebruik word. Dit het ʼn kortstondige kalmerende effek, maar daar is bewyse dat angsvlakke toeneem wanneer die effek van alkohol uitgewerk het.
Indien jy hierdie wenke toepas en jy nog steeds nie verbetering van jou gemoedstoestand ervaar nie, is dit raadsaam om profesionele hulp in te win. Maak ʼn afspraak by ʼn sielkundige en by jou dokter. Uitbranding is ʼn ernstige saak en dit is lewensbelangrik om die korrekte hulp in te win voordat jy permanente skade opdoen.
Kyk na jouself! Ons jeug het jou as onderwyser nodig!