Blog

Onderwysers, op die plek rus!

Celeste Labuschagne

Liewe Meneer en Juffrou, jy is moeg. Ek verstaan. Jou voete sleep en jy was sommer jou hare in die oggend met droë sjampoe, want jy het nie die krag om nog nat hare te was én droog te blaas nie. Gepraat van jou hare. Dit lê plat op jou kop en elke dag is ook net nog  ʼn slegte haardag, want tot jou hare is moeg!

Neem net in ag neem dat jy uniek is. Jy is ʼn onderwyser. ʼn Spesie op jou eie.

Onderwysers ís mense wat kan deurdruk. En, alhoewel onderwysers volgens oorlewering vier vakansies ʼn jaar het “om te rus”, weet ek wat die waarheid is. Dit is jy wat gedurende die Aprilvakansie vir 24-uur met sporttoere aan diens is. Winterskole en gholftoere sluk jou Julie-vakansies in. In die Oktobervakansie, eintlik net ʼn baie lang langnaweek, kry die lenteskool óf atletiekkursusse jou voorkeuraandag!

Tydens die COVID-pandemie van 2020 – 2021, het jy wel vakansie gehad en toe wéér nie en tóé weer (of het jy?). Onderwysers is goeie dansers. Hulle moet dans na die pype van die kinders, ouers en die Onderwysdepartement. Hulle moet voorbereid wees, by die werkprogram hou en boonop elke dag lyk of hulle dit geniet. Hiérdie dansery het jou moontlik al leeg getap. Om nie eers oor die spul voorbereiding vir 2024 te praat nie.

Meneer en Juffrou, wanneer jy klaar matriekvraestelle nagesien het óf wanneer jy jou klaskamerdeur op 14 Desember agter jou toetrek, is dit tyd vir “Op die plek rus!”.

Ek het ʼn bietjie naleeswerk gaan doen om te kyk hoe jy jou kragte kan herwin sodat jy 2024 met ywer kan aanpak. (En, nee, jy gaan nie nou al jou voorbereiding doen nie!)

Kenners is dit eens dat ʼn wegbreek broodnodig is wanneer jy van spanning en moegheid wil herstel. Tydens hierdie wegbreektydjie, is dit nodig dat jy jou heeltemal losskeur van jou daaglikse roetine en dinge doen wat weer jou liggaamsbattery sal laat herlaai.

Natuurlik het elke onderwyser sy eie persoonlikheid en voor- en afkeure vir ontspanning. Die voorstelle wat ek hier gaan noem, sal nie ʼn “one size fits all” oplossing wees nie. Kies net dit wat op jou van aard toepassing is en los die res, soos wat die Bybel sê: ”Beproef alle dinge, maar behou die goeie.”

So, hier gaan ons:

  • Lees ʼn boek met ʼn triviale storielyn

Lees ʼn boek wat jou van uitmergelende realiteit sal wegvoer. ʼn Boek wat jou sal laat verdwaal in ‘n storie sodat dit voel asof jy twee weke verloor het teen die tyd wat jy daarmee klaar is.

(Liewe Onnie, dit is nou nie ʼn Wiskunde-handboek indien jy Afrikaans gee nie.)

  • Skakel jou oorwerkte brein af

Psychology Today berig dat die gemiddelde mens sowat 35 000 besluite per dag neem. Ek is seker dat die gemiddelde onderwyser baie meer as 35 000 besluite per dag moet neem. Jy as onderwyser het daarom nodig om, wanneer jy ʼn breek neem, seker te maak dat jou brein ook bietjie rus. Gun jouself die tyd om soms net “te wees”. Gaan sit langs ʼn rivier of op die strand en wees net jý. Moenie dink nie. Dit sal moeilik wees, dit weet ek, maar omdat jy ʼn onderwyser is, kan jy enige iets doen. Indien jy hierdie jaar nie met vakansie kan weggaan nie, kan jy dan ten minste tweekeer per dag dagdroom.

Jy mag maar!

  • Kom tussen jou vier mure uit

Onderwysers bestee ʼn groot deel van hul dag tussen die vier mure van hul klaskamers. Kenners meen dat dit uiters waardevol vir Onderwysers kan wees om in die natuur te kom. Gaan kyk of daar iewers in jou omgewing ʼn staproete is om vir lang ure in die natuur te gaan stap of daar deur te bring. Indien daar nie een is nie, maak soos ek en my vriendinne en skep sommer jou eie staproete waar daar nie een is nie. Onderwysers is mos baanbrekers. Moenie wag nie, spring self in – wees kreatief!

  • Lag weer lekker uit jou maag uit!

Hierdie voorstel mag moeilik wees aangesien almal nie oor dieselfde sin vir humor beskik nie en nie oor dieselfde dinge in die lewe lag nie. Kry daardie ding wat jou laat lag, soos uit-die-maag-lekker-lag grappies, ʼn Netflix-komedie of gaan “like” sommer ʼn grappieblad op Facebook. Lag is ʼn wonderkuur teen spanning en moegheid. Wanneer jy lag, neem jy groot hoeveelhede lug in en dit veroorsaak dat jou bloedsuurstof verhoog. Dit verlaag terselfdetyd die cortisol en adrenalien (streshormone) in jou liggaam en versterk ook sommer jou immuunsisteem. Daar word ook endorfiene tydens ʼn lekker lagsessie afgeskei en dít sal laat goed voel. Lag net weer ʼn slag!

  • Smul skaamteloos aan donker sjokolade

Kry jy soms ʼn lus vir sjokolade? Gee jouself maar aan dié lus oor en eet ʼn paar blokkies donker sjokolade. Volgens die geleerdes verlaag donker sjokolade nie net jou cortisolvlakke nie, dit verbeter jou gemoedstemming. Indien dit nie een van die twee doen nie, is dit ten minste lekker – so, waarvoor wag jy?

Beste Onnie, jy kan volgende jaar voor die skole heropen weer aan voorbereiding en skoolwerk dink. Maak nou tyd vir jouself en jou gesin. Beproef ʼn paar van die wenke hierbo, of doen ook dit wat jy weet wat vir jóú werk, maar tog rus net. Daar is net een van jou en die onderwys het jou nodig.

Lekker rus!