Blog

Suid-Afrikaanse onderwysers is eiesoortige helde

deur Sarina Prinsloo
Kommunikasiespesialis: SOS

Skole wat floreer het almal een ding in gemeen: goeie, toegewyde onderwysers wat, ten spyte van uitdagings, onvermoeid werk om leerders te inspireer en te ondersteun. Hierdie eiesoortige helde maak daagliks planne, vind kreatiewe oplossings en bou brûe tussen hoop en die werklikheid. Met die hulp van hul gemeenskappe, soms ten spyte van beperkte leierskap, slaag hulle daarin om die beste te maak van moeilike omstandighede. Want – vir hulle is onderwys veel meer as net ‘n werk – dit is hul roeping, hul passie.

Die mens ágter die onderwyser

Agter elke lesplan en klaskamer staan ‘n mens met ‘n hart vir kinders. Onderwysers in Suid-Afrika staar daagliks enorme uitdagings in die gesig: groot klasse, beperkte hulpbronne en toenemende gedragskwessies. Met ‘n onwrikbare gees en gewoonlik met ʼn glimlag, betree hulle elke dag die klaskamer, vasbeslote om ‘n verskil te maak. Baie onderwysers reis lang afstande, staan voor sonop op, berei lesse tot laat in die nag voor en gebruik dikwels hul eie fondse om skryfbehoeftes en hulpmiddels vir hul leerders aan te skaf. Hierdie onbaatsugtige opofferings is ‘n teken van ‘n diepgewortelde toewyding aan hul beroep en die kinders wat hulle onderrig.

Onsigbare impak

Onderwysers dien nie net as opvoeders nie, maar ook as mentors, beraders en rolmodelle. Hulle luister na die stories en uitdagings wat hul leerders in die gesig staar – of dit nou honger, geweld tuis, of ander sosiale probleme is. Binne ‘n veilige en ondersteunende omgewing, dra hulle waardes en kultuur oor na die volgende geslag, help hulle leerders om hindernisse te oorkom en hul volle potensiaal te bereik. Met beperkte hulpbronne is onderwysers meesters van innovasie. Hulle skep onderrigmateriaal uit herwinde items, gebruik natuur- en omgewingsbronne as leermiddels en integreer musiek, kuns en stories om lesse lewendig en interessant te maak.

Gemeenskappe wat saamstaan

Ten spyte van toenemende gedragskwessies en dissiplinêre uitdagings, bly onderwysers hoopvol en veerkragtig. Hulle glo in die potensiaal van elke kind en gee nie maklik moed op nie. Goeie onderwysers verstaan dat onderwys meer is as kennisoordrag en dat dit ‘n gemeenskap verg om ‘n kind groot te maak. In suksesvolle skole is daar deur die bank sterk bande tussen onderwysers en hul gemeenskappe. Deur ouers, plaaslike besighede en organisasies te betrek, bou onderwysers ‘n ondersteunende netwerk wat die leerproses versterk. Hierdie samewerking lei tot projekte soos gemeenskapstuine, huiswerkhulp,  naskoolsorg en kultuur geleenthede wat leerders anker en hul horisonne verbreed.

Leierskap uit die hart

Goeie leierskap in skole kan nie onderskat word nie. Skoolhoofde en departementele amptenare wat hul onderwysers ondersteun, wat luister na hul behoeftes en hul prestasies erken, skep ‘n positiewe omgewing waar almal floreer. Selfs wanneer formele leierskap tekort skiet, tree onderwysers op as ligdraers. Hulle neem inisiatief, lei projekte en inspireer ander om saam te werk vir die groter doel. Hulle is die ankers in storms en die stemme van hoop wanneer dinge moeilik raak.

Op Wêreld Onderwysersdag 2024 doen UNESCO ʼn oproep op gemeenskappe regoor die wêreld  “om die stemme van ons onderwysers na waarde te ag en ’n nuwe sosiale kontrak met hulle te sluit ter wille van gehalteonderrig.” Dit resoneer diep met die werklikheid in Suid-Afrikaanse skole. Deur onderwysers se stemme te hoor en hul insig in beleid en praktyk te verreken, kan ons die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel versterk en gehalteonderrig vir alle leerders verseker.

Laat hul stemme weerklink

Wanneer ons onderwysers die ruimte gee om hul stemme te laat hoor en skoolleierskap en ander beleidmakers hul terugvoer ernstig opneem, voel onderwysers dat hulle werklik na waarde geag word en ‘n integrale rol in die vorming van die skool en leerders se toekoms speel. Hierdie gevoel van betrokkenheid en waarde skep by onderwysers nuwe energie om met toewyding te werk. Onderwysers se passie vir die onderwys ontvlam weer opnuut wanneer hulle weet dat hul idees en insprake nie net gehoor word nie, maar ook in die praktyk toegepas word.

Onderwysers kan toenemend bemagtig word deur toegang tot opleidingsgeleenthede met ‘n fokus op innoverende klaskamerbestuur, kreatiewe onderrigmetodes en die intelligent-toepaslike gebruik van beskikbare tegnologie. Klein aanpassings wat uit onderwysers se insigte voortspruit, is bv. effens-doeltreffende veranderinge in die manier waarop dinge in die praktyk gedoen word óf ‘n nuwe onderrigidee en -metode wat in die klaskamer getoets word. Dit kan ’n groot verskil aan effektiewe onderriguitkomste maak. Selfs eenvoudige gebare soos ‘n waarderende woord, ‘n skouerklop óf ‘n klein teken van erkenning verhoog geesdrif en selfvertroue.

Goeie onderwysers is nie net opvoeders nie; hulle is die argitekte van drome, die vormers van die toekoms, die stille helde wat elke dag lewens aanraak en verander. Al worstel die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel met moeilike uitdagings, weerklink ons onderwysers se stemme diep in die lewens van die volgende geslag.