Blog

SOS-matriekverslag 2022: Matriekuitslae bloot oëverblindery

“Baie geluk aan elke matrikulant wat oor die afgelope drie jaar uitdagende omstandighede te bowe gekom het en fantastiese uitslae behaal het. Ons wil ook die toppresterende skole loof vir hul uitstekende bestuur wat daartoe bygedra het,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Faktore wat moontlik bygedra het tot die verbeterde slaagsyfer van byna 4%, sluit in die noodgedwonge toename in die gebruik van tegnologie, asook leerders wat in reaksie op ongekende, nuwe uitdagings, veerkragtig en selfgerig gewerk het.

Die beter slaagsyfer tesame met beter deurvloeisyfers is beslis rede tot dankbaarheid!
Hoewel daar in al die provinsies ʼn merkbare verbetering was, is daar verskeie kommerwekkende syfers waarna gekyk moet word. Een van die grootstes is die hoë aantal leerders wat aan begin van 2022 vir die eindeksamen registreer het, maar in hulle finale skooljaar uit die stelsel verdwyn het en nie die eindeksamen afgelê het nie.
Byna 1 uit 10 leerders het aan die begin van matriek geregistreer, maar uiteindelik nie die eindeksamen afgelê nie.

Baie wisselvallige syfers van sekere provinsies laat wel vrae ontstaan:
• KwaZulu-Natal – Slaagsyfer 2022 van 83%, teenoor 2016 se 66,4% – ʼn verbetering van 16,6% oor die afgelope sewe jaar.
• Oos-Kaap – Slaagsyfer 2022 van 77,3%, teenoor 2016 se 59,3% – ʼn verbetering van 18% oor die afgelope sewe jaar.
• Die Oos-Kaap se werkloosheidsyfer is die hoogste in Suid-Afrika met 52,6%, teenoor die res van die land se 33,9%. Die hoër slaagsyfer en toegang tot hoër onderwys lei nie tot ʼn laer werkloosheidsyfer nie.
• Die deurvloeisyfer van die klas van 2022 van gr. 1 tot 12 is 325 000.
• Die Vrystaat se konstante uitslae van 85% en meer oor die afgelope sewe jaar, spruit uit die feit dat hulle die minste onderpresterende skole in die land het.
• Toelatingsvereistes tot tersiêre studie is sedert 2018 drasties verlaag, terwyl universiteite se kapasiteit nie hiermee kan tred hou nie. In 2012 was daar 136 047 kandidate wat toegang tot ʼn B-graad verkry het, teenoor 2022 se 278 814.
• Daar is 254 010 leerders wat nie die jaar deurgekom het nie en dus die reeds oorvol skoolstelsel onder nog groter druk plaas.

“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat matriekuitslae nie die enigste bepalende faktor vir ‘n mens se toekoms is nie. Daar is baie paaie na sukses. Met uitnemende denke en ʼn optimistiese hart, lê die toekoms oop vir julle!”, sluit Fourie af.

Laai die volledige verslag hier af.

Teken in op ons nuusbrief