Blog

Skenking van enjins dryf tegniese onderrig vorentoe

2025/09/23

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het, in samewerking met die Skole-Skenkingsfonds en Sol-Tech, twintig enjins aan verskeie Afrikaanse tegniese hoërskole oorhandig tydens ’n spesiale geleentheid by Sol-Tech se kampus in Centurion.

Dié inisiatief voorsien skole van moderne toerusting vir hul tegniese werkswinkels en beklemtoon die belangrike rol van praktykgerigte leer in die ontwikkeling van leerders. Die enjins, wat uitsluitlik vir opleidingsdoeleindes gebruik sal word, gee leerders die geleentheid om waardevolle tegniese ervaring op te doen en berei hulle voor vir die werksplek van die toekoms.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, maak skenkings soos hierdie ’n tasbare verskil:

“Toegang tot hulpbronne en toerusting vir werkswinkels is geweldig duur en skep uitdagings vir skole om opleiding werklik prakties te maak. Dit gaan nie net oor tegnologie nie, maar oor jongmense wat met selfvertroue en toepaslike vaardighede die arbeidsmark kan betree.”

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het die waarde van toegepaste kennis vir leerders verder uitgelig:

“Dit was heerlik om die elf skole en hul verteenwoordigers hier op die kampus te ontvang. Ons hoop dat die praktiese opleiding wat hierdie enjins moontlik maak, leerders sal help om die belangrikheid van vakke soos Wiskunde te besef.”

Die oorhandiging wys hoe samewerking met die privaatsektor nie nét leerders en skole bevoordeel nie, maar hele gemeenskappe versterk. Jongmense wat goed opgelei word, het hoop vir die toekoms. Hulle bring hul kennis en vaardighede terug na hul gemeenskappe, en dra só by tot die groei en vooruitgang van die land.