Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandag hul jaarlikse Matriekverslag vir 2024 by Hoërskool Waterkloof bekendgestel. Hierdie verslag bied ’n insiggewende oorsig van die nasionale uitslae van die matriekklas van 2024, met spesiale fokus op Afrikaanse skole se prestasies tydens die NSS-eksamen.
Die nasionale slaagsyfer het oor die afgelope dekade betekenisvol verbeter, met 100 000 meer leerders wat in 2024 matriek geslaag het in vergelyking met 2015. Provinsies soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, en Limpopo het die grootste verbeterings in slaagsyfers getoon. KwaZulu-Natal, wat 23% van die land se graad 12-groep verteenwoordig, het 41% van die onderskeidings en 58% van die graadtoelatings behaal. Dit kan deels toegeskryf word aan die impak van doelgerigte intervensies, hoewel ander faktore soos die hoë uitvalsyfer ook ’n rol kon speel.
Afrikaanse skole het weereens bewys dat hulle ’n uitnemende bydrae tot die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap lewer.
Top 3- Afrikaanse skole | |||
Meeste onderskeidings | Getal onderskeidings | Meeste onderskeidings per kandidaat | A’s per kandidaat |
Hoërskool Waterkloof | 811 | Hoër Meisieskool Bloemhof | 3,82 |
Hoërskool Menlopark | 755 | Hoër Meisieskool La Rochelle | 3,12 |
Hoërskool Garsfontein | 708 | Afrikaanse Hoër Meisieskool | 2,95 |
Top 3- klein Afrikaanse skole | |||
Meeste onderskeidings | Getal onderskeidings | Meeste onderskeidings per kandidaat | A’s per kandidaat |
Hoërskool Lutzville | 53 | Hoërskool Stella | 1,50 |
Gelofte Skool | 51 | Hoërskool Hoopstad | 1,34 |
Hoërskool Hoopstad | 43 | Hoërskool Lutzville | 1,33 |
L.W. Klein skole is skole met ’n minimum van 10 kandidate en ’n maksimum van 50 leerders in matriek.
Die volgende statistieke beklemtoon Afrikaanse skole se sukses:
- Slaagsyfer vir Wiskunde: 84,5%, wat 15,4% hoër is as die nasionale gemiddeld.
- Wiskunde-onderskeidings: Afrikaanse skole behaal drie keer meer Wiskunde-onderskeidings as die nasionale gemiddeld.
- Algemene prestasie:
- 2,2% beter slaagsyfer as die nasionale gemiddeld.
- 5,6% meer graadtoelatings as die nasionale gemiddeld.
- 5,5% meer onderskeidings as die nasionale gemiddeld.
Hierdie prestasies bevestig die waarde van moedertaalonderrig en die hoë standaarde wat Afrikaanse skole handhaaf.
Ondanks hul suksesse het die aantal Afrikaanse skole wat die NSS-eksamen skryf, sedert 2021 van 686 tot 555 afgeneem, wat ’n afname van 131 skole verteenwoordig. Hierdie tendens beklemtoon die noodsaaklikheid om hierdie skole te ondersteun en te versterk, aangesien hulle slegs 8% van alle skole uitmaak.
Die matriekuitslae van 2024 is lofwaardig. Daar is wel groot uitdagings in die onderwysstelsel wat aangespreek moet word. Slegs 50,3% van die leerders wat in 2013 graad 1 begin het, slaag uiteindelik matriek, en 139 461 matrikulante het minder as 30% in een van die verpligte wiskundige vakke behaal. Hierdie syfers beklemtoon die kritieke behoefte aan verbeterde leerderondersteuning en ’n sterker fokus op deurvloeikoerse in die onderwysstelsel.
Die SOS doen ’n beroep op die Departement van Basiese Onderwys (DBO) om suksesvolle strategieë en intervensies, wat tot beter slaagsyfers gelei het, landwyd te deel en te implementeer.
Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS, sê: “Die sukses van Afrikaanse skole bewys die waarde van moedertaalonderrig. Moedertaalonderrig behoort uitgebrei te word na ander tale soos isiZulu en isiXhosa om gehalteonderwys in alle gemeenskappe te verseker.”
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, voeg by: “Dit is vir die SOS belangrik om na die holistiese ontwikkeling van elke leerder te kyk en om seker te maak dat hulle toekomsvaardighede en kernwaardes aanleer. Die Matriekverslag van 2024 beklemtoon die potensiaal van doelgerigte ondersteuning en innoverende strategieë om die onderwysstelsel se uitdagings aan te spreek. Ons moet voortbou op die merkwaardige prestasies van top skole en seker maak dat meer leerders toegang het tot betekenisvolle onderwysgeleenthede.”
Die SOS prys die harde werk en toewyding van matrikulante, onderwysers en ouers wat hierdie prestasies moontlik gemaak het. Ons sien met trots uit na hierdie jongmense se waardevolle bydraes tot hul gemeenskappe en die land se toekoms.