Blog

Sol-Tech: “Môre begin vandag.”

“Môre begin vandag.”

Hierdie kragtige woorde van Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, dra ’n eenvoudige maar diep waarheid: By Sol-Tech glo ons dat jy dalk nie jou omstandighede kan kies nie, maar jy kan kies hoe jy daarop reageer. Hier word daar nie vir die toekoms gewag nie – ons glo aan die krag van selfdoen en daarom bou ons dit self!

ʼn Selfdoen-ingesteldheid begin met ’n keuse: Om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie toekoms. Sol-Tech rus jongmense toe – prakties én persoonlik – met alles wat hulle nodig het om suksesvol te wees. Met ’n moderne wêreldklaskampus, uitstekend toegeruste werkswinkels en kundige, ervare lektore, bied ons opleiding van gehalte wat studente voorberei vir die werklikheid van die arbeidsmark.

Ons unieke drie-fase opleidingsmodel sluit teorie, praktiese werk en indiensopleiding in. Meer as 400 werkgewers landwyd werk saam met ons, en elke student word geplaas by ’n goedgekeurde werkgewer – gereël deur ons eie plasingsmaatskappy, Ajani, wat eksklusief saam met Sol-Tech werk om die nodige blootstelling in die werksomgewing vir ons studente te bewerkstellig.

Sol-Tech bied kwalifikasies in agt ambagte, drie IT-rigtings, vroeëkinderontwikkeling en haarkappery – alles gerig op die werklike vaardigheidstekorte in Suid-Afrika. Die resultate wys:

· 96% slaag hul ambagstoetse

· 94,7% kry werk binne ses maande

· 21% begin hul eie besigheid

Maar ons vorm meer as net individue wat in eie reg ‘n bydra kan lewer tot die arbeidsmark – ons vorm mense van karakter.

Waardes soos dissipline, respek, innovasie en uitnemendheid is deel van ons kultuur. Kampuslewe, leierskapsontwikkeling en betekenisvolle tradisies help om gebalanseerde, weerbare jong volwassenes te kweek. Op kampus word daar doelbewus belê in persoonlike groei, leierskap en kultuuroordrag. Aktiewe studentelewe, ʼn formele studenteraad en tradisies vol betekenis dra by tot die ontwikkeling van gebalanseerde, eties-gefundeerde en veerkragtige jong volwassenes.

Ons 400 bed koshuis, die Plaashuis in Monumentpark, is ’n veilige, huislike ruimte, loopafstand vanaf die kampus – en maak dit moontlik vir studente van regoor die land om hul opleiding in ’n ondersteunende, veilige, stimulerende omgewing te voltooi.

 

Sol-Tech is nie net ’n kollege nie – dis ’n gemeenskapsbouer. Hier leer jy nie net om te werk nie, maar om ‘n bydra te lewer tot die vorming van jou toekoms – en ’n verskil te maak: vandag, more en al die dae daarna!

Teken in op ons nuusbrief