Blog

Huiswerk? Miskien kyk ons verkeerd daarna

Dr. Leandie Bräsler

 

Min onderwerpe ontlok soveel frustrasie in ouerhuise as huiswerk. Ná ’n lang skooldag, sport en ander verpligtinge, voel dit dikwels onnodig dat kinders steeds met boeke en werkkaarte moet sit. Baie ouers vra tereg: Moet huiswerk régtig nog soos tradisionele skoolwerk lyk?

Herbedink die idee van huiswerk

Tradisioneel verstaan ons huiswerk as skooltake wat ná skool voltooi moet word. Maar dit is nie noodwendig die enigste of beste manier waarop kinders verantwoordelikheid, dissipline en selfstandigheid kan leer nie. Huiswerk behoort eerder gesien te word as take wat kinders help om lewensvaardighede te ontwikkel. Dit kan natuurlik akademiese werk insluit, maar dit hoef nie daartoe beperk te wees nie.

Wanneer ’n kind help om kos te maak, leer hy of sy om instruksies te volg, vooruit te beplan, tyd te bestuur en verantwoordelikheid te neem. Wanneer ’n kind skottelgoed was, tafel dek, ’n kamer netjies hou of in die tuin help, ontwikkel daar belangrike vaardighede: werksetiek, deursettingsvermoë, aandag aan detail, samewerking en die besef dat elke mens ’n bydrae tot die huishouding en gemeenskap lewer. Hierdie take vorm karakter. Dit leer kinders nie net hoe om te werk nie, maar ook hoe om deel te wees van ’n gesin en later van ’n groter gemeenskap.

. Huiswerk is nie net ’n werkkaart of ’n bladsy se leerwerk nie. Huiswerk is ook die gewone, alledaagse take wat kinders leer om verantwoordelik, selfstandig en bekwaam te word. Om as deel van ’n gesin te funksioneer, leer hul sommer die beginsels van spanwerk ook. Die ouer garde sal jou gou herinner aan die spreekwoord “vele hande maak ligte werk”!

Dit beteken nie dat skoolwerk onbelangrik is nie. Inteendeel. Dit beteken net dat die aard van skool-huiswerk dalk moet verander.

Hier bied die omgekeerde klaskamer-model ’n sinvolle alternatief. In plaas daarvan dat leerders eers ’n volle dag by die skool nuwe inligting kry en dan huis toe gaan om dit alleen te probeer inoefen, word die proses omgedraai. Die leerder kry by die huis reeds blootstelling aan die inhoud, byvoorbeeld deur ’n kort video, ’n verduideliking, ’n leesstuk of ’n eenvoudige voorbereidende aktiwiteit. Die doel is nie dat die leerder alles reeds perfek moet verstaan nie, maar dat hy of sy self moet ontdek: Wat verstaan ek? Wat verstaan ek nog nie? Waarmee sukkel ek?

Die klas word die plek waar vaslegging en verdieping plaasvind

Dit is in die klaskamer waar die onderwyser die grootste verskil kan maak. Wanneer leerders reeds vooraf na die inhoud gekyk het, kan die onderwyser gouer sien waar die struikelblokke lê, die nodige konsepte vaslê, en help waar kinders onseker is en ekstra verduideliking nodig het. Die klas word dan nie net ’n plek waar inhoud oorgedra word nie, maar ’n ruimte waar begrip opgebou, misverstande uitgesorteer en kennis regtig gevestig word.

Só skuif die fokus van “gaan leer dit by die huis”, na: “kom werk saam daaraan in die klas”.

Hierdie benadering is belangrik, omdat nie alle kinders dieselfde by die huis kan leer nie. Nie elke leerder het dieselfde ondersteuning, selfvertroue of akademiese vermoë om nuwe werk alleen te bemeester nie. Wanneer vaslegging van nuwe inhoud hoofsaaklik by die huis moet gebeur, begin baie kinders reeds met ’n agterstand. Maar wanneer die skool en die onderwyser die plek van ondersteuning, inoefening en begrip word, kry alle leerders kans om werklik by te bly.

Dit vra ’n kopskuif van ouers en skole

Ouers moet besef dat waardevolle “huiswerk” nie net in boeke gebeur nie. Dit gebeur ook in die kombuis, by die wasbak, in die tuin en in die gewone ritme van die huis. Dis dáár waar kinders leer om hul hande te gebruik, take klaar te maak, verantwoordelikheid te aanvaar en deel te wees van iets groter as hulself.

Skole moet terselfdertyd vra of tradisionele huiswerk nog die beste gebruik van ’n kind se tyd is. Die vraag is nie hoeveel huiswerk gegee word nie, maar watter tipe huiswerk kinders werklik help om te groei. As die doel is om begrip te vestig, maak dit sin dat die moeilike deel – die vaslegging, die inoefening, die vrae en die reghelp – eerder in die klaskamer gebeur, waar die onderwyser teenwoordig is en waar ondersteuning dadelik beskikbaar is.

  • Huiswerk word nie afgeskaf nie – dit word herskep.
  • Huiswerk word die ontwikkeling van lewensvaardighede by die huis.
  • Huiswerk word verantwoordelikheid in die alledaagse.
  • Huiswerk word voorbereiding, blootstelling en selfontdekking oor leerinhoud.
  • Die klaskamer word weer die plek waar begrip, begeleiding en vaslegging sentraal staan.

 

Huiswerk is meer as ekstra skoolwerk Dit is deel van ’n groter opvoedkundige proses: by die huis leer kinders om verantwoordelike mense te word en by die skool leer hulle, saam met ’n onderwyser, hoe om kennis regtig te verstaan en vas te lê.

Waarom Wolkskool belangrik is

Wolkskool, ’n aanlyn leerplatform van die SOS, geet Afrikaanse skole, onderwysers en leerders toegang tot KABV-belynde, gehalte leerinhoud wat vervlegte leer en die omgekeerde klaskamermodel prakties moontlik maak. Omdat die platform videolesse, werkkaarte, assesserings en ander leerhulpmiddele bied, kan leerders tuis aan nuwe inhoud blootgestel word, teen hul eie pas daardeur werk en self begin identifiseer wat hulle verstaan en waarmee hulle nog sukkel. Dit pas in die omgekeerde klaskamer-model, waar die eerste kennismaking met inhoud buite die klas plaasvind, terwyl klastyd gebruik word vir vaslegging, verdieping, vrae en individuele ondersteuning. Só word die klas nie net ’n plek waar werk oorgedra word nie, maar ’n ruimte waar die onderwyser kan raaksien waar leerders vassteek en dit doelgerig kan aanspreek. Wolkskool help nie net om toegang tot kwaliteit Afrikaanse inhoud te verbreed nie,

maar versterk ook ’n meer doelbewuste, ondersteunende en doeltreffende model van onderrig en leer.

Bronne:

Li, Y. en Peng, C. 2024. The effectiveness of flipped classroom on autonomous learning ability: A meta-analysis. Asia Pacific Educ. Rev. DOI: https://doi.org/10.1007/s12564-024-10013-2.

Liu, L., Hew, K.F. en Du, J. 2024. Design principles for supporting self-regulated learning in flipped classrooms: A systematic review. International Journal of Educational Research. 124. DOI: https://doi.org/10.1016/j.ijer.2024.102319.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). 2023. Gids vir die Omgekeerde Klaskamer. Centurion: Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.

Ramdass, D. en Zimmerman, B. J. 2011. Developing Self-Regulation Skills: The Important Role of Homework. Journal of Advanced Academics. 22(2):194-218. DOI: 10.1177/1932202X1102200202.